Polisiebeamptes in Limpopo aangeval

Die waarnemende polisiekommissaris in Limpopo, genl.maj. Jan Scheepers, het die voorval ten sterkste veroordeel waar polisiebeamptes Saterdag buite Polokwane aangeval is.

Lede van die gemeenskap het die polisiebeamptes met klippe en ander voorwerpe bestook nadat vier onwettige immigrante in die gebied in hegtenis geneem is.

“Polisiebeamptes was omstreeks 17:00 besig meet feesgetybedrywighede by Greenside Extension 44 onder die Westenburg-polisiëringsgebied toe hulle vier uitlanders in hegtenis geneem het wat onwettig in die land is,” het brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, gesê. “Tydens die inhegtenisneming het een van hulle glo ʼn mes te voorskyn gebring en gedreig om die beamptes aan te val, maar hy is geskiet en beseer.”

Die broer van die beseerde man het daarna lede van die gemeenskap aangehits om die beamptes aan te val en hulle het die beamptes met klippe begin bestook. Drie polisiebeamptes is beseer en drie voertuie is beskadig. Lede van die gemeenskap het daarna al die onwettige immigrante uit die polisievoertuie vrygelaat.

Die beamptes, wat beserings opgedoen het, is na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling en is later ontslaan.

“Verdere ondersoek het weer tot die inhegtenisneming gelei van die 32-jarige onwettige immigrant wat tydens die voorval beseer is. Hy is by ʼn plaaslike hospitaal opgespoor en is onder polisiebewaking,” het Mojapelo bygevoeg.

Scheepers het die voorval ten sterkste veroordeel. “Die polisie sal nie enige vorm van wetteloosheid duld nie en enige aanval op hulle sal behoorlik hanteer word.”

Die polisie ondersoek sake van onwettige immigrasie, aanval op polisiebeamptes, ontsnapping, opsetlike saakbeskadiging en aanhitsing om misdaad te pleeg. Die polisie se ondersoek duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.