Polisiebeamptes, nog verdagtes vas by grenspos

Foto: SAPD.

Die polisie en Valke het 18 verdagtes, onder wie 10 polisiebeamptes, op aanklagte van korrupsie en afpersing in hegtenis geneem.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, waarnemende nasionale polisiekommissaris, het die inhegtenisnemings verwelkom.

Kol. Athlenda Mathe, woordvoerder van die polisie, het gesê die gesamentlike klopjag tussen die polisie en die Valke is spesifiek daarop gefokus om misdaad by die Ficksburg-grenspos tussen Lesotho en Suid-Afrika hok te slaan.

“Tydens die operasie het ons span inligting ontvang dat van ons lede onregmatig geld ontvang het van Lesotho-burgers wat nie die korrekte dokumente by hulle gehad het om die grens oor te steek nie. Hulle het in sommige gevalle ook burgers oor die grense vergesel. Die beamptes is ʼn ruk lank dopgehou en dit het toe duidelik geword dat van ons eie beamptes betrokke was. Die lede is Woensdagoggend in hegtenis geneem,” het Mathe verduidelik.

Lt.kol. Robert Netshiunda, woordvoerder van die Valke, het gesê 10 van die verdagtes is polisiebeamptes, vyf is staatsamptenare van die departement binnelandse sake en drie sogenaamde  “runners”.

Foto: SAPD.

“Hulle het paspoorte wat reeds verval het en ander vervalste reisdokumente oor die hoof gesien in ruil vir kontant of ander vergoeding. Dié operasie is die vierde van sy soort by die land se grensposte. Die ander drie was by Beitbrug in Musina, Limpopo, Vioolsdrift in die Noord-Kaap en Maseru naby Ladybrand,” het Netshiunda gesê.

Phahlane het gesê dis is ontstellend en terselfdertyd bevredigend om lede van die polisie in hegtenis te neem. “Laat dit vir diegene wat betrokke is by hierdie soort korrupte aktiwiteite ʼn les wees,” het hy gesê.

Phahlane het bygevoeg dat daar ʼn afname is in die aantal polisiebeamptes wat vasgetrek word vir korrupsie. “In 2015/2016 is 725 beamptes vasgetrek vir aktiwiteite wat verband hou met korrupsie, in die 2016/2017-boekjaar is 706 beamptes in hegtenis geneem.”

Die verdagtes sal teregstaan op aanklagte van bedrog, korrupsie en die oortreding van die Immigrasiewet. Hulle sal Donderdag in die Ficksburg-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johann ·

Ne! Rerig? Wat? No way! POLISIE????? Glo dit nie…en aan hulle eie peoples? Dis n lieg sê ek julle. Die polisie en valke en korhane en duifduties ens het dan DIE beste voorbeelde moontlik in hul leierskorps? Sies om hulle so.te.KOLONiseer met julle uitsprake.

Liza ·

Skokkend, baie trots op die afname? Dit is nie veronderstel om te gebeur nie, polisiebeamptes wat gearresteer word moet glad nie gebeur nie! En die man kan nie eers behoorlik engels praat nie maar hy is in beheer oor ons almal se veiligheid! Red ‘n nasie!

Ange ·

Swaar tronkstraf vir land verraaiers, want dis wat hulle is as een van die onwettige mense wat hulle ingelaat het Suid Afrikaanse bloed giet.

Sw ·

Buitelanders wat betrokke is by dwelms wie dit aan ons jeug verkoop en mensehandel. Die korrupte polisiebeamptes het niks integriteit in hul nie. Sies hul behoort hul te skaam!
Mooi so Valke, uitstekende werk!

Knap werk ·

Knap werk en goeie nuus, hou net aan lokvalle stel, dit sal hul heeltemal uitroei. Dit sal ook misdaad in SA laat afneem, want byna elke dag is daar buitelanders wat roof (kyk maar lughawe roof), verkrag en algemene misdaad pleeg. Verder het SA sy eie mense om voor werk te gee en te sorg en daar is nie genoeg, nou kom die immigrante (glo my die wat nie kriminele is nie, is werklik baie nice hardwerkende mense) en vat die werk / inkomste van die land se burgers.

Ramkat ·

Die afgelope twee.jaar het die aantal arrestasies afgeneem met 20.
Hoeveel polisie manner kom dan weg met misdaad.
As die aantal wat Jaarlikse aangekeer word met 20 verminderde le hef aan nog voor.
Dit kan tot 35 jaar neem voordat situasie genormaliseer word.
Wat n heerlike vooruitsig.

Manie ·

Ek voel die meeste van tyd daar is nie meer eerlike werkers in ons land. En mense in hoë poste stel nou nie juis n goeie voorbeeld. Kyk maar na al die vra oor die einste polisie hoof. Ek dink die sogenaamde struggle was om die handjies in die koekblik te kry

Lienkie ·

Well done!! Mnr Phahlane en span wat saamgewerk het, hou so aan!!

SMURFIE ·

net `n regstelling, is dit nie Lieutenant Generaal eerder nie? want n lieutenant Kolonel is n baie laer rang as die wat ek reeds genoem het. Maar is trots op my mede kollegas.

Janie Monsieur ·

Dagsê SMURFIE,

Dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Janie nms. Maroela Media

Estelle ·

Ja nee, ek stem, moet ons nou juig oor die “afname?!!!!

Scalla ·

Die waarnemende kommisaris verwelkom die inhegtenisname, het hy vergeet van sy eie ondersoek, gaan dit nie oor n klankstelsel nie, dit gaan ook seker maande vat. As die regte aanstellings en keuring vir die poste gedoen word behoort daar nie een hom skuldig te maak aan korrupsie nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.