‘Polisiebeamptes’ slaan op laerskool toe

Foto: http://laerskooltzaneen.com/

Foto: http://laerskooltzaneen.com/

Tzaneen het Woensdagoggend vir ʼn tweede keer onder transito-rowers deurgeloop, wat hierdie keer op die Laerskool Tzaneen se skoolgrond toegeslaan het.

Vic Rijnen, hoof van die laerskool, het aan Maroela Media gesê die voorval het gebeur nadat die skool reeds begin het en die leerders in hul klasse was.

“ʼn Veiligheidsmaatskappy kom haal elke dag kontant by die skool en die reëling is dat die transito-voertuig voor die saal stop en een veiligheidswag by die kantoor ingaan om die geldtrommel uit die kluis te gaan haal,” het Rijnen verduidelik. “Vanoggend het die transito-voertuig oudergewoonte by die hek gestop en toe die veiligheidswag hulle inlaat, het ʼn wit bakkie agter die voertuig die skoolgronde binnegery.”

Volgens Rijnen was daar ses insittendes in die bakkie waarvan drie polisieuniforms met koeëlvaste baadjies aangehad het. Die drie ‘polisiebeamptes’ het uitgeklim en in die rigting van die kantoor gestap. “Die veiligheidswag het hulle voorgekeer en gevra of hy kan help en die polisiebeamptes het gesê hulle is op soek na die eienaar van ʼn voertuig wat by ʼn misdaad betrokke was,” het Rijnen gesê.

“Hulle het na ʼn motor in die parkeerterrein gestap, op die lisensieskyfie gekyk en gesê dit is die motor waarna hulle soek.”

Toe die beampte van die veiligheidsmaatskappy met die geldtrommel uitgestap kom, het een van die rowers ʼn vuurwapen uitgepluk en ʼn skoot afgevuur. Die rowers het die geldtrommel en die veiligheidswagte se selfone gesteel, voordat hulle op die vlug geslaan het, het Rijnen vertel.

“Die skool se veiligheidswag het gelukkig reg opgetree en by die kantoor ingehardloop om te sê ons word beroof. Ons kon vinnig die paniekknoppie druk en alles sluit, maar die rowers het binne oomblikke op die vlug geslaan,” het hy gesê.

Volgens Rijnen het geen kinders die rooftog aanskou nie en moes slegs een van die skoonmaakpersoneel vir skok behandel word. Die kinders se ouers is ook oor die voorval ingelig en gerusgestel dat niemand beseer is nie.

“Ons sal uit die aard van die saak ons veiligheid nog meer opskerp en beslis die roetine met die kontant verander, maar as polisiebeamptes by die skool instap en sê hulle ondersoek ʼn misdaad, kan mens nie regtig weet of daar iets vreemd aan die gang is nie,” het Rijnen gesê. “Ons is net dankbaar dat niemand seergekry het nie en dat die kinders tot ʼn groot mate onbewus is van die voorval.”

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie. ʼn Saak van gewapende roof word ondersoek,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat ʼn veiligheidswag Woensdag in die vroeë oggendure tydens ʼn transitorooftog op die pad tussen Tzaneen en Giyani geskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Deloris ·

Moenie die skollies en “diewe” onderskat nie hulle hou maar maar so dom…

M Botes ·

Skerp asseblief sekuriteit op sowel as aanbring van kameras. My kleinkind is in die skool

Berhalet Beukes ·

Suid-Afrika laat die Wilde Weste soos ‘n piekniek lyk..

Rudi ·

Jip. Dit is nie meer een of twee skurke nie. Dis ses van hul. ‘n siek kultuur en gemeenskap en daar is geen sheriff in die geweste meer oor.

Dee ·

Iets vind ek baie fishy. Daar is al baie lank ‘n fasiliteit om geld te vlek en onbruikbaar te maak indien ‘n geldtrommel oopgeforseer word. Om een of ander onverstaanbare rede word dit nie gebruik nie terwyl dìt ‘n waterdigte oplossing sou wees.

DPJ ·

Hoe nader ons aan die verkiesing kom hoenmeer gaan dit gebeur. Politieke partye het baie geld nodig vir verkiessing.

Christo Pienaar ·

Is daar enige iemand wat vir ons kan wys hoe lyk ‘n regte polisie ID?

JOHNY ·

Daar was so 2 jaar gelede n voorval waar n person se besigheid se geld geroof is .Die persoon is ge eien as die rower agter die toonbank in polisie drag in die polisie stasie Tot vandag toe het niemand weer daaroor berig nie.Die persoon het n klag oopgemaak en die polisie het gese hulle sal dit ondersoek.Weet iemand iets daarvan.Let wel ek se nie ander polisie beamptes is ook betrokke nie.Daar is van die manne in blou op wie mens trots kan wees en hulle plig doen teen oor die mense van Suid Afrika.En die Polisie stasie in Pretoria Noord is van die manne in blou waarvoor ek en die mense van Suid Afrika baie trots kan wees.Hulle is paraat ek hou hulle dop in die oggend ure op my huis kamara en glo my hulle is persone om op trots te wees.Het ook al mondelings met hulle gepraat Baie dankie aan die polisie lede van Pretoria Noord en natuurlik ook Polisieerings persone wat ons veilig hou

Adriana Stuijt ·

Wat is die bron van die kontant bedrae wat dus daagliks uit die skool geneem word? Is daar ‘n winkel by die skool? Die storie is vir ‘n buitestaander soos ek nie baie duidelik nie. Dit is wel duidelik dat die kinders daardeur in gevaar gestel word.

Michelle De Jager ·

Adriana die skole het geld op die perseel vir hulle snoepie. Ook baie ouers betaal die skoolfonds en vir toere en uitstappies kontant.

Dee ·

Óf kry kinders nou soveel sakgeld dat dit buitbaar is in transitorooftogte?

Christo Pienaar ·

Is daar enige iemand wat vir ons kan wys hoe lyk ‘n regte polisie ID?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.