Polisiebeamptes tydens kaping geskiet

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

Twee polisiebeamptes en ʼn patrolliehond is gewond tydens ʼn skietery in KwaZulu-Natal.

Kol. Jay Naicker, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn vragmotor wat sigarette vervoer het is Maandag in Ntuzuma gekaap. Die vier verdagtes wat in die vragmotor was het op die polisiebeamptes losgebrand.

Volgens Naicker het die verdagtes die vragmotor stilgehou en te voet gevlug nadat die polisie op hulle geskiet het. Beamptes van die honde-eenheid en blitspatrollie is ontbied en het die verdagtes agternagesit. Die verdagtes het voortgegaan om op die polisie te skiet en twee konstabels en ʼn polisiehond is geskiet en gewond.

Die polisiebeamptes het een van die verdagtes doodgeskiet en nog ʼn verdagte gewond. Die ander twee verdagtes word steeds gesoek. “Die beseerde konstabels en polisiehond, Champ, is vir behandeling geneem. Die polisie het op twee vuurwapens beslag gelê.”

Naicker het gesê die polisie ondersoek ʼn saak van gewapende roof en poging tot moord. Willies Mchunu, KwaZulu-Natalse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die voorval veroordeel. “Ek is bly dat geen lede van die publiek tydens die voorval beseer is nie. Ons loof die polisiebeamptes vir hul onwrikbare dapperheid in hierdie saak,” het Mchunu gesê.

Foto: SAPD/Facebook

Foto: SAPD/Facebook

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.