Polisiebeamptes van moord aangekla

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Kent Williamson)

Drie polisiebeamptes van KwaZulu-Natal is Maandag in hegtenis geneem vir die moord op ’n 44-jarige man drie jaar gelede.

Ao. Senzo German Sosibo, sers. Mzikayise Kala en sers. Sivuyile Vusi Ngodwana se arrestasie volg ná ’n ondersoek deur die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) wat kort ná Mtholeni Ntsele se dood in 2018 van stapel gestuur is.

Die beskuldigdes het reeds in die hof verskyn en is elk op borgtog van R2 000 vrygelaat. Die saak is tot 3 November uitgestel.

Volgens Opod het die polisiebeamptes, wat aan die nasionale intervensie-eenheid in Durban verbonde was, op 2 Februarie 2018 na Ntsele se woonplek in die Okhukho-gebied in Mahlabathini gegaan om na ʼn ongelisensieerde vuurwapen te soek.

Daar was glo verskeie huise op die perseel waarin familielede van die oorledene gewoon het.

Twee familielede het glo gelê en slaap toe die polisiebeamptes dié huise binnegedring het en die inwoners verbied het om die huise te verlaat. Die beamptes is toe na bewering na die huis waar Ntsele, wat glo ook by die polisie se aankoms aan die slaap was, gewoon het.

“Familielede beweer dat hulle Ntsele ʼn ruk lank hoor huil het.

“Toe die gehuil stil raak het die familielede glo gesien hoe die beamptes hul voertuig in trurat tot voor Ntsele se huis trek en hom agterin die voertuig laai, waarna hulle vinnig weggery het,” het Opod in ʼn verklaring gesê.

Dit is nie duidelik of Ntsele in dié stadium nog geleef het nie.

Plaaslike polisiebeamptes het later dieselfde dag teruggekeer en die familie ingelig dat Ntsele dood is.

Die oorsaak van Ntsele se dood is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

R2 000 elk borg vir moord? Ek sien nêrens of hulle ontslaan is nie en dis nou mense wat ons moet beskerm en vertrou!!!

Flip ·

Hoekom is die blm, eff en ander bewegings nou so stil oor hierdie voorval?

Harley Davidson ·

Moordenaars in uniform wat hulle eie agenda het en hulle nie steur and die wette en regulasies wat hulle belowe het om te beskerm en te onderhou toe hulle polisie lede geword het nie.

Anton ·

3Jaar na die moord, en dan R2000 borgtog? Maar die boer wat homself beskerm het sit in die tronk?

Swerwer ·

Wreed verby en hul word op R2000 borg vrygelaat. Genade ANC jul intelligensie laat veel te wense oor.

Skappie ·

Ek kan nie verstaan nie. Hoe kan polisie manne wat veronderstel is om jou te beskerm, sommer net mense doodmaak. Waar is ons land se trots heen.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.