Polisiebeamptes vas ná moord op Bloem-sakeman

Louis Siemens. Foto: Facebook

Twee polisiebeamptes is in hegtenis geneem in verband met die moord op Louis Siemens, besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal.

Kol. Thandi Mbambo, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee polisiebeamptes is Vrydag in Bloemfontein in hegtenis geneem en sal Maandag in die stad se landdroshof verskyn.

Volgens Mbambo is die een polisiebeampte ʼn hofordonnans in Bloemfontein en die ander ʼn speurder by die Bayswater-polisiekantoor.

Kibi Stanley Bakili (36), wat ure ná die moord op Siemens in hegtenis geneem is, moet ook weer vandag in die hof verskyn, het Mbambo bevestig.

Die Bloemfontein Courant berig Bakili het tydens vorige verskynings aan die hof gesê hy het ʼn ontmoeting met Siemens gehad kort voor die moord en hulle het ook op die dag teksboodskappe vir mekaar gestuur. Bakili was ʼn sakevennoot van Siemens.

Volgens die koerant het Bakili vir Siemens as ʼn “broer” beskryf. Die staat het gesê Bakili word deur kringtelevisiebeeldmateriaal aan die moord verbind.

Siemens is op 10 Mei kort ná 15:00 in die kelderparkeerterrein van die Prellerplein-winkelsentrum doodgeskiet. Niks is tydens die voorval gesteel nie.

Daar is dadelik berig dat Siemens tydens ʼn oënskynlike sluipmoordaanval doodgeskiet is. Hy het glo net uit die hysbak gestap in die kelderparkeerterrein toe hy geskiet is.

Siemens het sy vrou en twee kinders agtergelaat.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Stephen Namibia ·

Bakili was n sakevennoot? Ondersoek maar die moontlikheid van oorkruis lewens versekering!

Colleen ·

Ek dog die SAP lede moet die publiek beskerm en nou pleeg hulle moord????

marous ·

gaan cele op sy hoed spring by die hof om sy afkeur in sy vertrouelinge te toon ? Gaan hulle kollegas wie se naam deur riool getrek word, in massas optrek om te betoog teen borg?

Hanna Hoekom ·

“To protect and serve”. Nog SAPD lede betrokke by misdaad! SAPD is n klug, n nes van rowers. En mense wonder hoekom gemeenskappe reg in eie hande neem… Go figure.

kai ·

ou diep in die hoed cele vra dat moord op polisie beamptes aan verraad gelyk gestel word, n misdaad teen die staat. wat maak n polisie lid se lewe meer werd as die plaasboer, sy familie, die petroljoggie of die huishulp wie vir n selfoon vermoor word? as cele se polisie mag hulle werk doen sal moordenaars minder aktief wees.

VROT APPEL ·

En dan moet ons nou elke dag hoor NIE ALMAL IS SO SLEG NIE. HOEVEEL polisiebeamptes is net in die afgelope MAAND vasgetrek vir van moord tot Cash in Transit heists, kapings en robberies? Toe asb kan iemand vir ons die statistiek bymekaar begin maak want die VROT APPELS raak nou baie meer as die paar rooi appeltjies in die mandjie.

Skandelik ·

Jis ek weet nie of jy jou BROER so moet behandel nie. Hou dan maar verby met jou BROER stories. Wonder of jy verklaar het dat jy ander sakebelange ook het? Twee kinders sit sonder ‘n pa en ‘n vrou sonder ‘n man, ek glo dat jou aandeel in die besigheid maar na die KINDERS toe moet gaan. Jy het nou jou eie hok bevuil.

John Doe ·

Baie dankie vir die berig, Maroela. Dis hoog tyd dat daar opgevolg word hieroor. As julle ondersoekende joernalistiek wil doen, gaan kyk maar na die “link” tussen Louis se moord en dié van die argitek, mnr Roodt en koppel dit dan aan die mediese mafia in die Vrystaat. Dit sal nie ophou voordat dit totaal oopgevlek is nie. Die media moet nou GROOT ASSEBLIEF hulle deel doen. Die regering is definitief betrokke in my opinie en ons vra vrae oor sommige van sy kollegas ook. Hy het nie alleen onderhandel met sy moordenaar nie! Kom nou Maroela, doen bietjie speurwerk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.