Polisiebeamptes vas ná skietdood tydens studentebetoging

Paramedici op die toneel in Braamfontein (Foto: Netcare 911)

Vier polisiebeamptes is in hegtenis geneem in verband met die dood van die 35-jarige man wat tydens die studentebetogings by die Universiteit van die Witwatersrand in Braamfontein geskiet is. Dit volg ná ʼn ondersoek van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod).

Mthokozisi Ntumba, ʼn staatsamptenaar, het Woensdag tydens die studentebetogings in die kruisvuur beland en is deur lede van die polisie – wat met rubberkoeëls op die studente losgebrand het – raakgeskiet. Hy was nie deel van die betoging nie en het pas ʼn dokterspreekkamer verlaat.

Paramedici het Ntumba omstreeks 10:25 op die toneel op die sypaadjie aangetref en hom dood verklaar. ʼn Nadoodse ondersoek word gedoen om die presiese oorsaak van sy dood te bepaal.

Die vier beamptes van die eenheid van openbare orde sal na verwagting Woensdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn op aanklag van moord, drie aanklagte van poging tot moord en regsverydeling.

Ntumba se dood het hernieude woede en kommer oor polisiewreedheid veroorsaak en het tot verdere betogings gelei. Pres. Cyril Ramaphosa het Ntumba se dood as uiters kommerwekkend bestempel en het gesê die polisie het oorreageer.

Wits het vroeër in ʼn verklaring sy medelye met die oorledene se familie uitgespreek. “Ons veroordeel enige vorm van geweld en doen ʼn beroep op almal om in dié baie moeilike tyd kalm te bly,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig Wits-studente wat ontevrede is dat hulle weens agterstallige studieskuld nie verder kan studeer nie, het verlede week betoog. Strate is tydens die betoging met brandende buitebande en rommel versper.

Sewe studente is tydens die betogings in hegtenis geneem, maar die saak teen hulle is nooit op die hofrol geplaas nie weens ’n gebrek aan bewyse. Vyf van die sewe studente is aanvanklik op aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem, terwyl twee ander onderskeidelik aangekla is van openbare geweld en kwaadwillige saakbeskadiging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Persheks Adri ·

Nou oorreageer die polisie? Ek verstaan nie lekker nie. Hoe moet hulle maak met betogers wat brand en breek? Staan en mooi lyk soos blomme of hoe nou Cyril? Verskillende reëls vir verskeie rasse huh

Wiehan ·

Wonder wie het geoorreageer? Polisie lede of hul minister wat se hulle moet hardhanding optree.

Sarel ·

Tipies… hoe wil julle misdaad beveg…geweldadige studente kom.niks oor nie maar Polisie word vervolg. Geen wonder die Polisie wotd uitgemoor nie want hulle.is.lankal uitverkoop en misdaad vier hoogty. Cele
.tree in vir jou mense.

Anel ·

1. Hulle veroordeel geweld. Wat is hulle betogings dan anders? Om goed te brand en te vernietig is geweld.
2. Die polisie het reg op getree. Indien die wet intussen verander het. Die polisie moet sorg dat daar binnelandse stabiliteit heers, en hulle moet eiendom beskerm. Nou lyk dit my die betogers kan maak en breek soos hulle wil en hief geen verantwoordelikheid te aanvaar nie. Jammer vir die persoon wat deur rubber rondte getref is. Hoe moes die polisie in elke geval onderskeid getref het?
3. Wat is dan die polisie se doel as hulle nie meer mag optree nie? Hulle mag alreeds nie hulle eie lewens verdedig nie en hulle word nie van lewendige ammunisie voorsien nie.
Wat spel dit? ANARGIE!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.