Polisiebeamptes vas oor bedrog

Argieffoto

Agt beamptes van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ʼn voormalige luitenant-generaal van die SAPD is Donderdagoggend saam met ses privaat burgers in hegtenis geneem op aanklag van bedrog, korrupsie, diefstal en geldwassery.

Genl. Khehla John Sitole, die nasionale polisiekommissaris, het ʼn spesiale antikorrupsie-taakspan onder die leierskap van brig. Tony Perumal aangestel oor ernstige bewerings van korrupsie en verwante misdade in 2017. Die span en sy ondersoekbeamptes is ondersteun deur ʼn span van die nasionale vervolgingsgesag onder leiding van adv. Hermione Cronje.

Brigadier Vish Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê die taakspan is sedert 2017 besig met ʼn omvattende ondersoek oor tenderbedrog wat verband hou met die aanbring van amptelike materiaal op polisievoertuie. “Tydens dié ondersoek is nege beamptes van die SAPD, insluitend senior beamptes, maatskappydirekteure en werknemers, wat vermoedelik betrokke was in ʼn poging om die staat te bedrieg, in hegtenis geneem.”

Die taakspan het Donderdagoggend vroeg toegeslaan en die volgende persone is gelyktydig by hul onderskeie huise in hegtenis geneem:

– Afgetrede lt.genl. Ramahlapi Johannes Mokwena (60) (voormalige afdelingskommissaris: verskaffingsbestuur by die Pretoriase hoofkantoor); in Rethabile in hegtenis geneem

– Brig. James Ramanjalum (55) (voormalige afdelingshoof van aanskaffing); in Rooihuiskraal in hegtenis geneem
– Brig. Jabez Naidoo (49) (stasiebevelvoerder: Point-polisiestasie in KwaZulu-Natal en voormalige hoof van verskaffingsbestuur in die Wes-Kaap); in Durban in hegtenis geneem
– Brig. Lesetja David Mogotlane (57) (afdelingshoof: meganiese dienste) in Soshanguve in hegtenis geneem
– Kol. Thomas Dumisani Marima (50) (afdelingsbevelvoerder: voertuie en taktiese toerusting)
– Lt.kol. Veeran Naipal (47) (voertuigondersteuning: Pretoria-Sentraal)
– Lt.kol. Alpheus Nkosibanke Makhetha (46) (tegniese kenner: voertuigvloot)
– Administratiewe klerk Jacoba Havenga (49) (hoof provinsiale klerk: nuwe voertuigstoor in die Wes-Kaap)
– Marcell Duan Marney (33) (hoofklerk in brig. Ramanjalum se kantoor)
– Krishna Chetty (62) in Centurion in hegtenis geneem
– Kishene Chetty (38) in Centurion in hegtenis geneem
– Lorette Joubert (44) (eienaar van Vatika Trading); in Mountain View, Pretoria in hegtenis geneem
– Maricha Joubert (24) in Mountain View, Pretoria in hegtenis geneem
– Kumarasen Prithviraj (eienaar van Kgotho); in Mountain View, Pretoria in hegtenis geneem
– Volan Prithviraj (Kumarasen se seun) in Pretoria in hegtenis geneem.

ʼn Luitenant-kolonel sal ook binnekort in hegtenis geneem word, wat die getal inhegtenisnemings van polisiebeamptes op 10 te staan bring, het Naidoo bygevoeg.

Sitole het die taakspan geloof vir hul ywerigheid en vasberadenheid tydens die ondersoek. “Ek is op hoogte gehou van die omvattende en ingewikkelde ondersoek sedert dit van stapel gestuur is,” het hy bygevoeg. “Ek is vol vertroue dat die sake teen die beskuldigdes waterdig is.”

Die verdagtes sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

“Ons kan nie die moontlikheid uitsluit dat nog persone in hegtenis geneem kan word nie,” het Sitole gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sarel

Gaan hulle geld terug betaal.

marius

Hoeveel eerlike polisie beamptes gaan opruk om borg tee te staan ? Zero ….

Cecil

Wat gebeur verder. Sal niks verder hoor.

Tanja

Mooi so, ek het julle dopgehou in die straat. Well done!

Yvonne

Sjo dis erg….Ons pragtige land is verrot