Polisiebeamptes vas vir bedrog, omkopery

(Foto: SAPD)

Twee polisielede het Woensdag in die Boksburg-landdroshof verskyn op aanklagte van korrupsie en regsverydeling.

Speurkonstabels Robert Pepsy Lebyane (38) en Curtus Chauke (34) het glo in Junie 2018 omkoopgeld van R2 000 van die klaer aanvaar.

Volgens kapt. Ndivhuwo Mulamu, woordvoerder van die Valke, het die klaer die geld oorhandig sodat hy nie in hegtenis geneem sou word vir dronk en nalatige bestuur nie. Die saak is onmiddellik by die Valke se eenheid vir ernstige korrupsie in Germiston aangemeld vir verdere ondersoek.

“Ná afloop van ʼn intensiewe ondersoek is lasbriewe vir die inhegtenisneming van konst. Lebyane en Chauke in Desember uitgereik,” het Mulamu gesê.

Die twee is Woensdag by Boksburg-polisiestasie in hegtenis geneem.

Borgtog van R4 000 elk is toegestaan en die saak is uitgestel tot 14 Februarie.

Intussen het nóg ʼn polisiebeampte Woensdag in die hof verskyn op aanklagte van omkopery.

Konst. Ketane Lucky Lentsoane (33) het in die Atteridgeville-landdroshof verskyn.

“Daar word beweer dat Lentsoane ʼn sekere ondersoekbeampte genader het met betrekking tot ʼn saak van diefstal wat hy ondersoek het. Hy het die ondersoekbeampte glo R2 000 aangebied om bewyse teen die beskuldigde te verdoesel en die saak af te water sodat die beskuldigde vrygelaat sou word,” het Mulamu gesê.

ʼn Lokval is vir Lentsoane gestel en hy is Woensdag in hegtenis geneem. Hy word aangekla van omkopery. Hy is borgtog van R3 000 toegestaan en die saak kom weer op 19 Februarie voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Dries ·

Omkoopgeld geneem in Junie 2018? Hoe kan dit so lank neem om arrestasie te doen? Wow? Hoe lank neem ‘n ondersoek binne die SAPS?

Scalla ·

Omkoopgeld en omstandighede dieselfde, hoekom verskil die borg bedrag, gaan seker oor die lang tydsverloop met ondersoek, rente word seker bygevoeg. Die beste is om geen borg te gee nie want dan hoef die berekening nie gedoen te word nie.

Gert Retire@Midstream ·

Geen positiewe, konstruktiewe nuusberigte tot dusver in mediaberigte. SAP baie onder verdenking.

syddy ·

Amazing… skelms word aangestel om skelms te “vang” word daar nie agtergrond ondersoeke gedoen op hulle nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.