Twee polisiekonstabels is in hegtenis geneem in verband met die beweerde verkragting van ʼn 20-jarige vrou in Upington in die Noord-Kaap.
Moses Dlamini, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), het gesê die beweerde verkragting het op 3 April in Paballelo plaasgevind.
“Die verdagtes, wat onderskeidelik gevestig is by die Nakop-grenspos en Kenhardy-polisiestasie in Upington, was van diens af ten tyde van die voorval,” het Dlamini gesê.
Volgens Dlamini het die vrou van Rosedale ʼn saamrygeleentheid na die dorp van die beamptes versoek. Sy ken glo albei beamptes.
“Toe hulle van die dorp af teruggekeer het, is hulle na die huis van een van die beamptes. Sy kollega het hulle in ʼn stadium verlaat, waarna die huiseienaar glo die vrou verkrag het. Die kollega het glo tydens die daad teruggekeer en die slagoffer ook verkrag.”
Die slagoffer het ʼn klag van verkragting by die Paballelo-polisie aanhangig gemaak. Sy is na ʼn hospitaal geneem waar sy deur ʼn dokter ondersoek is.
Opod het die ondersoek oorgeneem en die beamptes Woensdag in hegtenis geneem.
Die beamptes moet Donderdag in die Upington-landdroshof verskyn op aanklag van verkragting.
Wie kan jy vertrou net die een wat alreeds dood is
So beskerm en dien die nuwe SAPS. Hoekom dan nou misdaad bekamp?
Die polisie gaan nou onder Fikile erger agteruitgaan as Springbok rugby.