Polisiebeamptes wil appelleer teen vonnis

Argieffoto

Argieffoto

Twee polisiebeamptes van Worcester in die Wes-Kaap wat Maandag effektief tot 10 jaar tronkstraf gevonnis is, het appèl aangeteken teen dié vonnis.

Elizabeth Messias en Riaan Hunt, albei 34 jaar oud, het Maandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Bellville voor landdros Sabrina Sonnenberg verskyn. Hulle het tereg gestaan op aanklag dat hulle R8 000 geëis het om ʼn gekonfiskeerde vragmotor aan die bestuurder vry te stel.

Messias, ʼn konstabel wat vroeër by Worcester-polisiestasie gebaseer was, is sonder salaris geskors ná die inhegtenisneming, maar sy is intussen weer aangestel en is nou by Rawsonville gestasioneer.

Hunt, wat vroeër ʼn reservis was en Messias se kollega was by Worcester, het intussen as gevolg van die saak bedank.

Die twee is albei gevonnis tot vyf jaar korrektiewe toesig, wat bestaan uit ʼn 10 maande periode van tronkstraf waarna hulle onder huisarres vrygelaat sal word.

Hulle was albei vir ongeveer ʼn uur lank in aanhouding by die hof se selle nadat die vonnis uitgespreek is voordat prokureur Sakkie Kroukam aansoek gedoen het om verlof tot appèl. Dié aansoek word op 12 Mei aangehoor en albei is vrygelaat op R10 000 borgtog hangende die uitslag.

ʼn Vroulike gesinslid van Messias het op die ondersoekbeampte, ʼn kaptein, geskree terwyl hy in die openbare galery gewag het. Die vrou het die hof verlaat op versoek van ʼn polisiebeampte, maar ʼn dogtertjie, ongeveer vier of vyf jaar oud, het later ingekom en die kaptein gevloek. Die kaptein het die verbale mishandeling verduur sonder enige reaksie.

Volgens die klagstaat het Messias en Hunt in Augustus 2011 ʼn vragmotor buite Worcester voorgekeer, op soek na vervalste goedere. Hulle het niks gevind nie, maar Messias het ʼn karton met khat op die bestuurdersitplek gevind. Hulle het beslag gelê op die vragmotor, maar die vragmotor en karton aan die bestuurder teruggegee nadat hulle omkoopgeld van R8 000 aanvaar het. Volgens die klagstaat is die twee beamptes aangegee toe hulle dieselfde vragmotor drie maande later weer voorgekeer en weer geld geëis het.

Die landdros het gesê hulle het albei skuld ontken op aanklag van korrupsie. Die verdediging het gesê korrektiewe toesig sonder tronkstraf is voldoende om geregtigheid te laat geskied in die belang van die gemeenskap.

Staatsaanklaer Xolile Jonas het egter gesê huisarres sonder tronkstraf stuur die verkeerde boodskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.