Polisiebestuur oor die kole gehaal oor kontrakte

Foto: SAPD, Facebook

Senior lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) moes Dinsdag ongemaklike vrae van LP’s beantwoord oor hoekom daar nie stappe gedoen is teen polisiebeamptes wat na bewering onwettig voordeel trek uit kontrakte met die SAPD nie.

LP’s het geëis dat die beamptes antwoorde gee oor 32 polisielede wat deur die ouditeur-generaal (OG) geïdentifiseer is as lede wat moontlik voordeel getrek het uit kontrakte ter waarde van miljoene rande met hul werkgewer.

Lt.genl. Lesetja Mothiba is nog net twee weke in sy pos as waarnemende nasionale polisiekommissaris, maar moes namens sy bestuurspan erken dat 11 maande nadat die OG die 32 polisiebeamptes uitgewys het, die SAPD nog nie stappe teen enige van die lede gedoen het nie. “Daar is nie een van die sake wat ons kan sê is afgehandel nie,” het Mothiba gesê. Hy het onderneem om teen die einde van die maand ʼn verslag by die parlement in te dien om te bevestig of daar stappe teen die beweerde korrupte werknemers gedoen is.

LP’s was glad nie beïndruk met Mothiba se antwoord nie en IVP-LP Mkhuleko Hlengwa het gesê hy “aanvaar nie daardie tydlyn nie”.

“Ons het sopas die 2016-’17 finansiële jaar afgesluit. Hierdie bewerings kom al van 2015-’16 af. Dit is nimmereindigende chaos. Ek aanvaar dit nie,” het Hlengwa gesê.

Op ʼn vraag van LP’s waarom die OG die moontlik korrupsie moes identifiseer, het Bonang Mgwenya, nasionale adjunk-kommissaris van menslike hulpbronne, erken daar is geen bestaande stelsel om te bepaal of ʼn werknemer bande het met ʼn maatskappy wat sake met die SAPD doen nie. “Ons beskik tans nie oor ʼn elektroniese stelsel wat ons in staat stel om ʼn knoppie te druk en te sien Mgwenya doen sake met wie ook al nie…,” het sy gesê.

Mothiba het volle verantwoordelikheid vir die probleme aanvaar en gesê hy sal met die polisie se interne ouditspan vergader om aandag te gee aan die tekortkominge. “Ek het deeglik kennis geneem van wat die komitee gesê het en ek sal teruggaan en seker maak ons ondersoek elke liewe aspek en gaan in die fynste besonderhede in. Ons sal die komitee ʼn baie noukeurige verslag gee oor elkeen van hierdie sake en watter maatreëls ons getref het om hierdie soort goed te voorkom.”

Hlengwa het Mothiba en die SAPD uitgedaag om sy gevolgtrekking dat die polisiebestuur korrupte polisiebeampte beskerm, verkeerd te bewys. “Ek neem ernstig aanstoot deur die feit dat die SAPD dit aan Suid-Afrika sal doen,” het Hlengwa gesê.

“Hierdie ondersoeke is nie afgehandel nie want vriende beskerm vriende en dit is ʼn misbruik van posisies. Hierdie voorlegging kom neer op niks anders nie as kwaadwillige samewerking om ons om die bos te lei om te dink iets is gedoen wanneer daar absoluut nog niks gedoen is nie.”

Themba Godi, Scopa-voorsitter, het gesê die saak kom neer op die vermoëns van die leierskap binne die SAPD. “Ek het sopas getel, generaal, in die afgelope 23 jaar is jy nou die sesde man aan die stuur by die SAPD. Van genl. Fivaz tot Selebi tot Cele tot Phiyega tot Phahlane … en dit is dalk nie jou probleem nie. As die politici net hier kan wees om kennis te neem dat ons stabiliteit in die organisasie nodig het, kan ons die stelsels bou wat ons nodig het,” het Godi gesê.

Sellina Nkosi, kommissaris van die Staatsdienskommissie, het bygevoeg die kommissie het drie jaar lank jaarliks aan die departement van polisie geskryf om ʼn lys voor te lê van polisiebeamptes met moontlike konflik van belange, maar het geen reaksie ontvang nie. Godi het gesê dit is onaanvaarbaar.

“Dit kan nie reggestel word nie en daar is geen antwoord wanneer ʼn hoofstuk 10-instansie, wat sy werk ooreenkomstig die Grondwet moet doen, aan die minister skryf en sê daar is ʼn probleem en julle reageer nie,” het Godi gesê. “Wat nou aan die lig gekom het, is dat die politieke leierskap dalk nie daarin belangstel om die probleme uit te sorteer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann Marx ·

Waarom gaan almal nou so tekere? Die top bestuur ondersoek sake soos die gewone polisiemanne dit doen…..traag, moeisaam, ongeïnteresseerd, ongemotiveerd en met geen sukses nie. En buitendien……ons verwag van die polisie om die polisie te ondersoek? Komaan…..enige mens kan insien dat dit geen vrugte sal afwerp nie.

Ander Annie ·

Themba Godi is een van die beste SCOPA Voorsitters ooit. Sy waarneming is korrek. Dit is ook baie erg om in SCOPA te sit as jy net 2 weke in ‘n pos is, en dan tot verantwoording geroep word oor jou voorgangers se chaos. Dit is egter onaanvaarbaar dat daar sedert 2015 geen ondersoek geloods is nie. Geen wonder dat ons lees van die sogenaamde duur huise, karre en klanktoerusting, meubels, ens.

Hanna ·

Nuuswaardig? Ag komaan, ons weet tog hier sal niks van kom nie. Geen politieke wil of sin vir geregtigheid nie. En so stoom die soustrein voort…

Pieterlewismuts ·

Nou dat die skoen aan die ander voet is, is die ANC soos in onmiddelik daarop dat daar gereageer moet word en aksie MOES al.geneem geword het.
Maak eers skoon voor jou eie.deur in die parlement Mnr Mhlengwa, dan praat ons weer as jy dan nie self in die.be skuldig de bank sit nie.
Intussen moet ons vir.die nuwe polisie hoof die.voordeel van.die twyfel gee en hom geleentheid gee om sake uit te stryk.
Slegs wanneer hy nie sy.beloftes nakom sonder.aanvaarbare verduideliking nie, dan.eers.mag hy.geroskam word.

al ·

Dis ñ baie goeie vraag wat gevra is en moet hard en indringend beantwoord word.
Die oortreders stel geen goeie voorbeeld vir die jong polisiemanne en vroue nie. Ñ Kultuur kan maklik ontstaan van as daardie een wegkom met ñ oortreding, is dit vir my oukei om myself te verryk.

paula ·

In die vorige bedeling was dit presies dieselfde, verskil is dit is geheim gehou.

Ander Annie ·

Paula, ja daar was korrupsie en van dit is toegesmeer. Ander was in die media. Gaan kyk maar na die klomp toilette wat tussen niks en nêrens gebou is. Daardie Minister het oud geword in die tronk. Die korrupsie nou is skrikwekkend.

Poot ·

@Ghodi
Vra ook sommer die vraag hoeveel ministers en LP’s het ons gehad in die afgelope 23 jaar.

alida ·

Kan iemand vir my groot asseblief net EEN instansie gee wat nie gekoppel is aan ‘n stelery en korrupsie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.