Polisiebrutaliteit-video: Beampte ontslaan

'n Skermskoot uit die video

‘n Skermskoot uit die video

Ao. David Alexander Gunn (43), een van die polisiebeamptes wat in Kaapstad afgeneem is terwyl hulle ʼn naakte man aangerand het, is uit die Suid-Afrikaanse Polisiediens ontslaan.

Riah Phiyega, die nasionale polisiekommissaris, het Donderdag sy ontslag verwelkom en gesê dit stuur ʼn duidelike boodskap oor ongewensde polisie-optrede.

Sy het die Wes-Kaapse polisie bedank vir die tugverhoor wat tot Gunn se ontslag gelei het. Hy was by die Kaapstad-Sentraal-polisiestasie gestasioneer. Sy medebeskuldigde, ao. Gerrit Donovan Januarie (45) het bedank voor tugstappe teen hom gedoen kon word.

Phiyega het gesê die mans hoort nie in die polisie nie en het die “vinnige en beslissende” optrede teen hulle verwelkom. “Die beamptes se optrede is duidelik teen al die polisie se waardes en sal nie geduld word nie,” het sy gesê.

ʼn Vrou het in Maart haar selfoon gebruik om ʼn voorval af te neem waar ʼn Nigeriese man deur polisiebeamptes in die straat aangerand word. Die videogreep het opslae gemaak op sosiale media. Twee polisiebeamptes boei die man, en twee mans met neongeel-veiligheidsbaadjies hou hulle dop. Een van die beamptes trek die man se broek uit en laat hom ontbloot in die straat staan. Die man word dan geskop en geslaan terwyl sy arms vasgehou word.

Gunn en Januarie is na die voorval amptelik aangekla van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike skade aan te rig en het reeds in die Kaapstad-landdroshof verskyn, waarna hulle op borgtog van R1 500 vrygelaat is. Die twee moet volgende Vrydag weer in die hof verskyn. – SAPA

Lees ook:
Polisiebrutaliteit-video: Borgtog toegestaan
Polisiebrutaliteit-video: Twee vas
Polisiebrutaliteit-video: Beamptes geskors
Vermeende polisiebrutaliteit afgeneem

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Desmond ·

Ek is nie verbaas nie wat nou gebeur is dat die geskorste lid net weer in n ander provinsie weer werk kry.hukom blacklist hulle nie soos gese was die politieke figure wat korrup is ook nie hulle werk dan gerus met geen probleme. Tot die hofsakke kry hulle nie onder. Want toe is die land Suid Afrika nou. Ag eks op vir die korrupte politieke figure. Ek is weteglik op.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.