Polisiehelikopter-ramp: Ma soek vyf jaar later steeds antwoorde

Ao. Tinus Gouws. Foto: Verskaf

Ao. Tinus Gouws. Foto: Verskaf

Dit is vandag presies vyf jaar nadat ʼn polisiehelikopter met sewe beamptes aan boord op pad van Pretoria na Witbank neergestort het.

Bheki Cele, destydse nasionale polisiehoof, het na die ongeluk, wat op 23 Julie 2010 naby Witbank plaasgevind het, as “Swart Vrydag” verwys.

Die vlieënier, kapt. Wickus Zaayman (31), en sy medevlieënier, ao. Tinus Gouws (39), het die betrokke dag in mistige weer vyf beamptes van die nasionale intervensie-eenheid na ʼn misdaadtoneel op Witbank gevlieg.

Die beamptes van dié eenheid was kol. Percy Maduna (39), bevelvoerder van die intervensie-eenheid, ao. Dirk van Aswegen (35), ao. Colin Davids (37), sers. Jacobus Henning (28) en sers. Daniël de Bruin (31).

Tydens daaropvolgende hofsake in die Witbank-landdroshof is getuig dat Zaayman se bloedalkoholvlak 0,08 g per 100 ml was en Gouws s’n 0,02 g per 100 ml.

Daar is ook gehoor dat die moontlikheid bestaan het dat ʼn skokgranaat tydens die vlug afgegaan het. Daar is 16 skokgranate uitgereik en net 15 agterna teruggekry.

Ná maande lange hofsake kon landdros Ernst du Plooy in 2013 geen bevinding oor aanspreeklikheid maak nie omdat daar nie bepaal kon word wat voor die ramp in die kajuit gebeur het nie.

Gouws se ma, Doris, was nie hiervoor te vinde nie en het in 2014 strafregtelike klagte teen drie senior offisiere van die polisielugvleuel ingedien en voer aan dat hulle aanspreeklik gehou moet word. Sy het ook vertoë teen die kantoor van die direkteur van openbare vervolgings (DOV) se besluit gerig.

Die DOV het Doris in April vanjaar per brief ingelig dat hy weereens besluit het om niemand oor die ongeluk te vervolg nie.

Doris het egter in aanloop tot die ongeluk se herdenkdag aan Maroela Media gesê sy gaan nie rus voordat iemand vir die tragedie aanspreeklik gehou word en haar seun se naam in ere herstel is nie, aangesien hy volgens haar nie onder die invloed van alkohol was nie.

“Eerstens het die dokter wat die nadoodse ondersoek gedoen het ʼn verkeerde lyknommer aan my seun toegestaan. Hy was ook voor die ongeluk op voorgeskrewe medikasie en sou daarom nie alkohol drink nie. Ek het ná maande se gespook uiteindelik ʼn verslag van die nadoodse ondersoek gekry en vir ʼn onafhanklike dokter gegee, en dié het bevind dat my seun nugter was,” het Doris gesê. “Die oorspronklike bloedmonsters is eers 10 maande ná die ongeluk getoets, en toe ons versoek om dit afsonderlik te laat toets, toe het die monsters voete gekry.”

Doris is van mening dat die senior offisiere hul plig versuim het deur nie die vlieënier se alkohol-inhoud te toets voordat daar opgestyg is nie. “Hulle kon sien sy oë was rooi en hy was moeg omdat hy min geslaap het, want hy het glo tot 02:00 die oggend by ʼn partytjie gekuier. ʼn Selfoonoproep wat na ʼn kollega daai tyd van die oggend gemaak is om te hoor waar hy is, het nooit in die hof ter sprake gekom nie. Reg en geregtigheid het nie geskied nie. As die beamptes hul plig gedoen het, het almal nog gelewe.”

Sy en haar man, Tok, was etlike ure in die hof om al die verrigtinge mee te maak en sê daar is in hofdokumente genoegsame bewyse om te sien hoe getuies gejok het om hul kollegas te beskerm.

Doris is van mening dat haar vertoë nie behoorlik hanteer is nie weens skuiwe by die kantoor van die DOV en daarom is daar weer beslis dat niemand vervolg gaan word nie.

Gouws het 22 jaar lank vir die polisie gewerk. Hy was die aand voor die ongeluk saam met sy vrou, Diane, dogter, Hailey (toe ses jaar), en seun, Stephen (toe drie jaar), by die huis. Die medikasie wat ʼn dokter destyds vir hom voorgeskryf het, was antihistamien.

“Sy vrou, kinders en vlieg was sy passie. Ons sal hom altyd onthou as ʼn mens met ʼn mooi geaardheid wat altyd gelag het. Hy sal nooit vervang kan word nie. Almal wat hom geken het, was lief vir sy vriendelike persoonlikheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Debs ·

Tannie Doris, sterkte met jou soektog na antwoorde, ek hoop jy gee al die etters slaaplose nagte wat verantwoordelik is vir die jong mense se onnodige dood.
Ongelukkig is daar so min mense wat hand kan opsteek met die gesegde … A friend in need is a friend in deed ….. die lewe is een bedrog en lieg spul..Mag tannie vrede in Jesus vind.

Anton Crafford ·

hierdie datum sal ALTYD deel wees van my lewe. Ek was in bevel van die span wat die forensiese ondersoek op die ramptoneel gedoen het. Ons het ook die fotos en n video-opname van die toneel geneem. My hart gaan uit na die familie van die oorledenes. Mag hulle berusting vind. Ek het einde April 2013 met vervroegde pensioen afgetree.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.