Polisiehoë geskors midde blouligskandaal

Lt.genl. Bonang Mgwenya in die hof (Foto verskaf)

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het lt.genl. Bonang Mgwenya, adjunkkommissaris vir menslikehulpbronbestuur by die Suid-Afrikaanse Polisiediens, geskors nadat verdoemende bewerings teen haar onlangs die lig gesien het.

Mgwenya het Maandag in die Palm Ridge-landdroshof verskyn in verband met haar beweerde betrokkenheid by die toekenning van ʼn bedrieglike multimiljoenrandtender vir waarskuwingstoerusting vir die polisie.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê Sitole het Mgwenya Woensdag met onmiddellike inwerkingtreding hangende ’n departementele ondersoek geskors nadat hy ’n verslag van die aanklagte teen Mgwenya ontvang het.

Sitole het intussen ook ’n luitenant-generaal geskors vir haar beweerde betrokkenheid by korrupsie wat terugdateer tot 2015.

Volgens Naidoo hou dié skorsing nie verband met die skorsing van Mgwenya nie hoewel dit daarop wys dat die polisiekommissaris ernstig is daaroor om korrupsie in die SAPD uit te roei.

“Die SAPD het ’n ernstige wond in die vorm van korrupsie. Maar as ons aanhou om ons geledere skoon te maak, sal die litteken daarvan ons daaraan herinner dat ons nooit weer so ’n wond moet opdoen nie,”” sê Sitole op sy beurt.

Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris (Foto: ANA)

Maroela Media het vroeër berig Mgwenya is die 13de beskuldigde in die sogenaamde blouligskandaal insluitend verskeie ander voormalige senior SAPD-beamptes en ʼn maatskappy, Instrumentation for Traffic Law Enforcement (Edms) Bpk, wat deur sy alleendirekteur, Vimpie Manthatha, verteenwoordig word.

Die persone word daarvan beskuldig dat hulle saamgewerk het om seker te maak ʼn kontrak word toegeken aan ʼn maatskappy wat aan Manthatha behoort. Volgens die kontrak sou 1 550 polisievoertuie teen opgedrewe pryse met waarskuwingsligte toegerus word.

Tydens die aanskaffingsproses het die beskuldigdes glo die mededingende aanbiedingsproses geminag en die SAPD sou R191 miljoen ten gunste van Manthatha se maatskappy moes oorbetaal in ruil vir voordele.

“Die kraantjie is toegedraai ná R65 miljoen aan die diensverskaffer, Instrumentation for Traffic Law Enforcement (Edms) Bpk, oorbetaal is,” het Sindisiwe Twala, woordvoerder van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), gesê. “Betaling van ʼn verdere R22 miljoen is gestop as ʼn direkte gevolg van Opod-ondersoekbeamptes wat saam met die Valke en die polisie gewerk het onder leierskap van Opod.”

Mgwenya staan tereg op aanklag van korrupsie, bedrog en geldwassery vir haar rol om seker te maak dat die kontrak in 2017 toegeken word aan Instrumentation for Traffic Law Enforcement.

Mgwenya is intussen vrygelaat op borgtog van R20 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Persheks Adri ·

Cele se trots die klomp!!! Nee ou, julle gaan vir ewig en altyd dit aan julle vas hê dis soos apartheid ne…

R20 000 borg? Dit regverdig mos nie die korrupsie bedrag nie mmmmmm… Gaan lekker in die nuwe SA!

Dup ·

Sal die eerlike persoon in die regering asb opstaan…..kom nou……ons kan nie heeldag wag nie……enigiemand…..?

Persheks Adri ·

Ai ons wens daar is 1 wat ons kon sê is eerlik, maar ons gaan lank wag Dup! Nie in die regering nie

Kokerboom ·

En sy is NIE ‘n vlugrisiko of word nie vir verraad teen land in selle aangehou? Ek mis konsekwente optrede!

Thelsa ·

Geskors met volle salaris en voordele. Hierdie ondersoek gaan nog laaaaaank duur en intussen sit die agbare generaal by die huis en vingers rol . . . . entitled to !!!

tweeling ·

Dis goed dat julle die korrupsie wil uitroei, dit verbeter egter nie die bevoegdheid en etiek van SAPS nie

JM ·

Wat my net verstom, is die hoë range wat toegeken word. Daar word nie meer onder begin en daarvoor gewerk nie; en as ek so ‘n hoë rang het, is ek sommer ook bo die wet verhewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.