Polisiehoës op grondvlak nie antwoord vir misdaad

Bheki Cele, minister van polisie (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die polisie se plan om hooggeplaaste offisiere op grondvlak in te span om misdaad in die land beter te bestry, is dalk nie so briljant as wat die polisieminister wil glo nie. Dit kan boonop hardwerkende polisiemanne op grondvlak ontmoedig.

Bheki Cele, die minister van polisie, het Woensdag in antwoord op ʼn parlementêre vraag gesê die polisie is besig met ʼn herstruktureringsplan om onder andere polisiegeneraals en top-offisiere in senior bestuursposisies na polisiestasies landwyd te verplaas. Dié plan sal egter nie ʼn uitwerking op die poste van die minister, nasionale polisiekommissaris en nege provinsiale kommissarisse hê nie.

Verskeie kenners meen dit sal nie ʼn werkbare, langtermynoplossing vir stygende misdaadsyfers in Suid-Afrika bied nie en sal waarskynlik ook nie die nodige duik in die polisie se enorme salarisrekening maak nie.

Volgens Cele het die herstrukturering ten doel om die polisie se kapasiteit op distrik- en provinsiale vlak te verbeter, veral “in die lig van ʼn krimpende personeelkorps weens begrotingsbesnoeiings”.

Hy sê voorts dat die plasing van senior, middel- en junior bestuurders en lede op provinsiale, distrik- en stasievlakke sal verseker dat vakante poste deur personeel met die nodige vaardighede en ervaring gevul word. Cele sê die plan sal in drie fases uitgerol word nadat ʼn ooreenkoms daaroor in 2020 met die polisievakbonde Popcru en Sapu bereik is. Dit sal glo teen Junie ten volle in werking tree.

Kyk na beleid

Andrew Whitfield, die DA se skaduminister vir polisie, sê die plan is eerder ʼn herontplooiing van polisiehulpbronne wat nie noodwendig die gewenste resultate sal lewer nie.

Hy meen indien dié polisiebeamptes wél oor die regte vaardighede beskik, dit dalk tot korttermynoplossings ten opsigte van misdaadbestryding kan bydra, maar nie op lang termyn nie.

“Polisiëring moet in sy geheel hersien word en daar moet dringend gekyk word na die voorsiening van hulpbronne op provinsiale vlak.

“Daar moet ook na die dissiplinêre kode gekyk word. Polisiebeamptes moet regdeur vir hul prestasie verantwoordbaar gehou word.”

‘Goeie beginsel’

Ian Cameron van Action Society en firearms.co.za meen wel die beginsel van die herstruktureringsplan is goed, aangesien senior polisiebeamptes nie altyd ʼn werklike begrip het van wat op grondvlak aangaan nie.

“As bevoegde leierskap op provinsiale en distriksvlak geplaas word, kan dit rigting en leiding op grondvlak bied. Dit sal egter net werk as dié mense werklik bevoeg is.

“As ons nie ordentlike misdaadintelligensie het nie, gaan dit egter niks help nie. Dan verhoog ons die moraal, maar maak geen werklike verskil aan misdaad nie.”

Cameron meen die polisie het boonop reeds te veel bevoegde senior polisiebeamptes verloor.

Volgens hom sal ʼn werkbare oplossing eerder wees om reservistevermoë terug te bring en sterk spesialiseenhede te vestig.

Plan kan dalk ontmoedig

Dr. Chris de Kock, onafhanklike misdaadontleder en voormalige hoof van misdaadinligtingsbestuur by die polisie, sê Cele probeer nou twee vlieë met een klap doodslaan.

“Die minister is soos almal gefrustreerd met die stygende misdaadkoers en wil nou soveel voete as moontlik op grondvlak kry om misdaad te bestry.

“Om mense uit topbestuur na onder te skuif beteken nie dat jy hulle nou ewe skielik baie minder kan betaal nie. Die polisie se hoë salarisrekening gaan steeds ʼn uitdaging wees. Daar moet eerder pakkette vir polisiehoës en beamptes wat naby aan aftrede is, aangebied word sodat jonger mense aangestel en opgelei kan word. Vir een generaal se salaris kan jy ʼn klomp konstabels aanstel.”

De Kock sê voorts dat die skuiwe mense in hul nuwe poste, asook die polisiebeamptes wat al jare by die stasies werk waarheen dié mense nou verskuif gaan word, kan frustreer.

“Dit kan almal ontmoedig. Aan die een kant het die betrokke senior polisieoffisiere en beamptes met range nie noodwendig die kennis, ervaring en vaardighede om misdaad op grondvlak te bestry nie. Dan kry jy weer die stasiebevelvoerder of beamptes, met baie meer kennis en ervaring, wat nou maar eintlik die boodskap ontvang dat hulle nie verder bevorder gaan word nie.”

De Kock sê hy het egter baie simpatie met Cele en die nuutaangestelde kommissaris, genl. Fannie Masemola, en die uitdagings wat die polisie het.

“Al hierdie elemente beklemtoon net dat hy [Masemola] ʼn baie moeilike, dalk onmoontlike taak het wat op hom wag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Johann ·

Madhatter gaan seker vir elkeen n hoed gee plaas van n rang?

Marius ·

Dit logies. Die polisie hoës het geen polisiëring ondervinding nie. Vandaar die onkunde hoe om misdaad te bekamp.

AW ·

Gaan NIÉ werk NIÉ !!!

Onthou die Regering dan nie vir JS, en hoe hy eenhede laat ontbind het en of toe gemaak , en die lede na stasies gestuur het…..

Maar nou Ja, Wat weet ek !

Jack ·

Die vis se kop word nie geraak nie en bly maar ongestoord vrot. Sy reputasie die afgelope dekade spreek tog vanself. Hy dop die prestasie toets loshande en moet nou begin om sy salarisverhogings terug te betaal.

annie ·

‘n Rang het nog nooit ooit iemand slimmer of flukser gemaak nie. Kyk hoe lyk ons munisipaliteite. Groot karre en baie geld, baie praat en baie eet… oorgewig aan personeel… die badkamerskaal ditto met min bestuursvermoë plus lae etiese waardes gee zero uitkoms. Om die minister na te doen gaan ook nie veel beterskap bring nie. Oei, hoëkoppe opgedress met fancy hoede wat kleinkoppie-trek sodra probleme opduik, maar baie praat na ‘n krisis voor die tv-kamera.

Casper ·

Hoedman praat van vaardighede en ervaring in wat,polisiëring of beursies vol maak.Nou is daar meer polisielede vir misdadigers om na teiken te skiet.

Annelie ·

Hardwerkende polisiemanne. Ek nie geweet as jy in jou stoel aan die slaap raak dan tel dit as n hardwerkende man nie. Mr chele lig hulle uit daai stoele uit.

Swerwer ·

Polisiehoës op grondvlak nie antwoord vir misdaad nie want dan moet hul hul eie misdaad uit bring.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.