Polisiehond help gesteelde skape uitsnuffel

Die skape is Sondagaand gesteel, maar is danksy die blitsige optrede van die polisie teruggevind. (Foto: Verskaf)

Die vinnige optrede van die polisie – en ʼn parate snuffelhond – het gelei tot die suksesvolle terugvind van 50 skape wat die afgelope naweek in die Brandfort-distrik in die Vrystaat gesteel is.

Die 48 Dorper-ooie en twee ramme, ter waarde van R155 000, is Sondagaand gesteel, lui ʼn gesamentlike verklaring van die Rooivleisprodusente‑organisasie (RPO) en Vrystaat Landbou (VL).

Die saak is by die polisie aangemeld en ʼn speurder, asook ʼn polisiebeampte verbonde aan die honde-eenheid het saam met ʼn snuffelhond genaamd Ashton sowat 30 km lank spoorgesny op soek na die gesteelde vee.

Altesame 48 skape is by die munisipale weikamp naby die dorpsgebied in digte bosse gevind, waar ʼn tydelike kraal vir hulle opgerig is. Niemand is op die toneel aangetref nie, maar die polisie kon die skape aan hul eienaar terugbesorg.

Isabel Kruger, verbonde aan die RPO se Veediefstalvoorkomingsforum, het die polisie vir die blitsige optrede bedank, veral dié van die spesialiseenhede, wat gelei het tot die herwinning van die vee.

“Dit is sulke vinnige reaksie en optrede van die polisie wat sal verseker dat boere se vertroue in die regstelsel sal verbeter,” sê Kruger.

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL, sê die Brandfort-gebied loop al geruime tyd deur onder veral veediefstal.

Van Januarie tot Desember verlede jaar is meer as 1 080 stuks vee ter waarde van R6 miljoen in Brandfort gesteel. In 24 van die 53 sake is 10 tot 79 stuks vee op een slag op plase gesteel.

“Dit wys weereens dat groot getalle vee in die Vrystaat op een slag op plase gesteel word, wat dit ʼn georganiseerde misdaad maak wat tot groot verliese onder kommersiële boere lei,” sê Buys.

Die RPO, VL en die plaaslike boerderygemeenskap vra die polisie lank reeds om veediefstal doeltreffend te help bekamp, te voorkom en diegene verantwoordelik daarvoor in hegtenis te neem. Verskeie inhegtenisnemings is die afgelope ruk gedoen, maar volgens die organisasies lyk dit of daar goed georganiseerde groepe of sindikate betrokke is by voorvalle van veediefstal.

Kruger het opnuut ʼn beroep op die polisie gedoen om veeboewe aan die pen te laat ry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
SjN

Hul gaan aanvoer hul was honger.

Swerwer

Hierdie ANC nasionale sport geleentheid sal seker eersdaags ook beloon word met medaljes ten spyte van ons boere se verlies.

Hennie

100 % BEE 30%er parasiete klepto’s wat dit gedoen het.

Misky

Bly om te sien Brandfort het darem nog sy naam behou. Sterkte aan die boere in die area, want die Vrystaat loop sleg deur onder ANC.

Samuel

Daardie snuffelhond verdien ‘n groot been. Eenkeer wat die polisie iets positiefs doen.