Polisiehond sleep verdagte uit rivier

Konst. Ashley Kock saam met die polisiehond Sem. (Foto: SAPS)

ʼn Polisiehond in die Noord-Kaap het sy swemvaardighede ingespan toe hy ʼn moordverdagte in ʼn rivier vasgetrek het. Dié het glo die polisie probeer ontduik deur in die rivier te spring en weg te swem.

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die polisie was dae lank op soek na ʼn 31-jarige man wat na bewering sy vriendin se pa by sy huis in Hartswater doodgesteek het. Die moord het verlede Dinsdag 15:30 plaasgevind en die verdagte het op die vlug geslaan op pad na Pampierstad.

Hy is Donderdag 13:50 uiteindelik deur lede van die polisie opgespoor. In ʼn poging om lede van die honde-eenheid te ontduik het hy in die rivier gespring en begin wegswem.

“Konst. Ashley Kock het die polisiehond Sem in die water agter hom aangestuur. Sem het die verdagte sowat halfpad deur die rivier ingehaal en vasgetrek,” het Kock gesê.

Nadat Sem die beweerde moordenaar uit die water gesleep het, het lede van die honde-eenheid hom in hegtenis geneem.

Hy sal na verwagting binnekort in die Hartswater-landdroshof verskyn.

Genl.maj. Johan Bean, distrikskommissaris van die Frances Baard-munisipaliteit, het Sem bedank vir sy harde werk om die verdagte vas te trek.

Bean het ook die betrokke beamptes en gemeenskapslede bedank vir hul vinnige reaksie wat tot die inhegtenisneming van die verdagte gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anel ·

Ek het nou lekker gelag en lekker gekry tot in my kleintoontjie. Mooi so. Kry vir jou, katvis. Misdadigers is banger vir ‘n hond as ‘n vuurwapen. Ha, ha, ha!!!!

Persheks Adri ·

Mooi so jou oulike honde kind! Inderdaad slimmer as baie mense wat ek ken.

Mariana ·

Swem misdadiger swem, misdadiger kan nie swem nie. Sem jou pragtige dier, jy is ‘n held.

Sandra ·

Ek sit net en smile oor die berig. Mooi so Sem. Wys die blikskottel waar dawid die wortels of been begrawe het. Ek hou van sulke positiewe berigte wat diere en veral polisie honde aanbetref. Ek dink hulle doen baie meer as wat ons lede van die publiek van bewus is.

Herman L ·

Miskien moet daar meer honde en minder mense in die polisiemag wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.