Polisiehond snuffel rower in kas uit

(Foto: SA Polisie)

ʼn Rower wat in ʼn slaapkamerkas weggekruip het nadat hy en sy makkers se poging om die huis te beroof deur die polisie gefnuik is, is deur ʼn polisiehond uit sy wegkruipplek gesnuffel.

ʼn Huiswerker was Woensdag besig met haar pligte by ʼn huis in Westville, Durban, toe sy omstreeks 13:00 deur vier gewapende mans oorval is.

Volgens brig. Jay Naicker, polisiewoordvoerder, het die mans die huiswerker aan haar nek gegryp en haar in die huis se gang af gedwing.

Beamptes van die Westville-polisiestasie en die honde-eenheid het van die voorval verneem en onmiddellik reageer.

“Die verdagtes was besig om die huis te plunder toe hulle die polisiebeamptes op die toneel sien aankom het. Die mans het onmiddellik en met leë hande in verskillende rigtings van die toneel gevlug.”

Die beamptes het hierna met ʼn snuffelhond die perseel deursoek. “Die hond het ʼn man in ʼn kas in een van die slaapkamers uitgesnuffel.” Volgens Naicker is die 22-jarige man onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die verdagte sal in die hof verskyn sodra hy ontslaan word. Die soektog na die ander verdagtes gaan voort.

Lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes vir hul spoedige optrede geloof.

“Ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om altyd waaksaam te wees selfs as hulle by hul huise is, en om onmiddellik met die polisie kontak te maak as hulle iets ongewoons opmerk. Ons het vinnige reaksiespanne wat strategies ingestel is om spoedig te reageer op misdade wat aan die gang is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Lala Land ·

Ek hoop die rede vir die mediese behandeling was omdat Wagter hom goed beetgekry het en nie gelos het nie.

Max ·

Klink asof Woef n bietjie skade aangerig het. Doe so voort, Woef!

Cherokee ·

Toe ek sien die hond het hom uitgesnuffel, het ek gewonder of die hond gesê het “woef..woef..woef…hier is ‘n kroek!” maar toe ek lees hy is onder polisiebewaking geneem na ‘n hospitaal, was die antwoord duidelik.

JohanR ·

Sa….wat hom Fluffie! Lekker byt hier, ‘n lekker byt daar, en siedaar!

Strandloper ·

Moet n bloed hond wees wat hom gate uit geniet het. Gee nog so paar bene om aan te kou!

George in Bloem ·

Klink vir my Wagter het hom goed geroer voor hy “uit die kas gekom het”.. …”so to speak”. Amper was hy ‘n geraamte in die kas. Gee daai hond ‘n Lekker dik T-bone.

Mm ja nee ·

Ek wonder as daar nie n woefie was nie, sou hulle hom gekry het?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.