Polisiehond ‘soos familie’

A.o. Ettienne Gerber en Misty (Foto: Verskaf)

“Sy is my bondgenoot, kollega en bowenal ’n familielid.”

Só beskryf ao. Ettienne Gerber van die polisie se honde-eenheid in Port Elizabeth, die polisiehond, Misty, waarmee hy sedert 2017 talle suksesvolle missies voltooi het. Dié twee se suksesverhale en keurige snuffelwerk haal gereeld plaaslike koerante se voorblaaie.

Vir polisiemanne in die honde-eenheid word dié diere soos familie. Dit is dan ook dikwels moeilik om jou hond, met wie jy gereeld gevaarlike omstandighede trotseer, aan die dood af te staan.

Gerber en Misty se daaglikse take bestaan daaruit om vermiste persone – lewend of dood – op te spoor, liggame uit vlak grafte te grawe asook verdrinkings- en selfmoordslagoffers te red.

In die mees onlangse reddingsoperasie – wat byna ses ure lank geduur het – het dié gedugte span gehelp om die liggaam van ’n 69-jarige man van Jeffreysbaai wat van die Stormsrivierbrug in die Oos-Kaap gespring het, uit die water te haal. Hierdie brug is sowat 120 meter hoog en word as die tweede hoogste brug in die Oos-Kaap bestempel.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, sê die polisie se honde- en duikeenheid moes Sondag in moeilike weersomstandighede van die brug af abseil tot in die woeste, yskoue rivierwater. Daar het hulle die man se liggaam sowat 2 km stroomaf gevind, maar kon weens die stortreën die liggaam eers Maandag verwyder.

Misty is in 2017 as polisiehond opgelei (Foto: Verskaf)

“Ons het ’n hegte band gevorm omdat ons meer as agt uur van die dag tyd saam deurbring. Ek voel ek bring meer tyd saam met haar deur as saam met my eie familie.”

Gerber vertel omdat hy tans 24 uur per dag op bystand in Port Elizabeth is, gaan Misty saans saam met hom huis toe. “Sy geniet dit om saam huis toe te gaan en is glad nie gelukkig daarmee wanneer ek haar by die eenheid laat nie.”

By die huis het Misty haar eie bed en word sy omtrent deur Gerber, sy vrou en seuns bederf. “Sy mag maar bederf word, want sy werk baie hard.”

Bedags is Misty sy skaduwee.

Gerber vertel wanneer Misty die aand by die eenheid geslaap het en hy die volgende oggend by die werk aankom, kan hy al van ver af haar opgewonde blaf hoor. “Sy hoor my stem gewoonlik eerste en begin dan opgewonde te blaf. Sodra ek haar aandag gee, sal sy rustiger raak omdat ek naby is.”

Die Oos-Kaapse honde-eenheid wat soek- en reddingswerk doen bestaan uit sewe opgeleide polisielede en vyf honde.

Gerber vertel om vloedwater of enige onstabiele terrein te trotseer, is vir hom die vreesaanjaendste aspek van sy werk en is ook fisiek uitdagend.

“Dit is besonder belonend om aan die einde van die dag saam met jou hond die fisieke uitdagings te oorkom en dan die vermiste persoon op te spoor en te weet hul families kan nou afsluiting kry. Die families plaas immers hul vertroue op jou en jou hond om hul geliefdes op te spoor.”

Gerber sê in sulke gevaarlike situasies vrees hy gewoonlik dat sy vierpotige vriend iets kan oorkom. Hy vertel hy het Misty se voorganger, Kojak, amper in ’n stroomversnelling in ’n rivier verloor toe hy uit die boot geval het. Kojak het ’n reddingsbaadjie aangehad en kon daarin slaag om uit die water na die oewer te swem.

“Ek het myself yskoud geskrik en so magteloos gevoel om hom nie te kon help nie. Ek toe net weer besef hoe braaf en gekondisioneerd hierdie honde is om sulke gevaarlike situasies te kan hanteer.”

Gerber het in 1996 by die polisie se honde-eenheid in Port Elizabeth aangesluit weens sy groot passie vir honde. Hy beskryf sy werk as ’n roeping, eerder as bloot nóg ’n werk.

Hy het sy loopbaan in die honde-eenheid met die hond Hitler in die honde-patrollie-eenheid afgeskop en toe by die honde-springstofeenheid aangesluit. In 2003 het hy na die honde-eenheid wat soek- en reddingswerk doen geskuif en vir Bruno gekry, wat in 2010 weens heup en rugkomplikasies dood is. Hierna is Kojak aan hom toegeken, wat hy in 2015 moes laat uitsit weens ’n breingewas.

“Elkeen van daardie honde het ’n spesiale plek in my hart. Dit het gevoel asof ek geliefdes aan die dood afstaan.”

Gerber sê polisiehonde soos Misty is oor die algemeen nie aggressief nie omdat hulle hoofsaaklik aangewend word om mense op te spoor. “Hulle baklei ook nie sommer met ander honde nie. Dit was vir my altyd so mooi om te sien hoe die polisiehonde na ’n opleidingsessie saamspeel, sonder om vir mekaar te grom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SomeOne ·

ek is so dankbaar vir die manne in blou en hul vierpotige “kinders” wat alles in hul vermoee sal doen om sukses te behaal, dankie, ek salueer julle, ” good show”

Di ·

Wat ‘n inspirerende storie. Ek is self ook ‘n diere liefhebber en kan verstaan dat hierdie dier soos sy eie familie is. Dankie aan jou en jou pragtige hond vir julle onbaatsugtige bydrae wat julle lewer aan die gemeenskap in hierdie moeilike tye waardeur ons almal tans gaan.

twaalfboor ·

24 jaar in die Polisie en die man is nog ń A/O. Skaam julle SAPS. Die man moes lankal ń offisier gewees het.

Cecilia ·

Pragtig! Ekt langs so SAPS lid gebly en het baie gelag as hy vertel hvl nonsens hy en daardie “partner” kan aanjasg saam. Harder gehuil as hy d dag toe hul sy partner dood skiet.

Anel ·

Ek kan met trots sê dat Ettienne en Hitler deur my opgelei is patrolliehondgeleider en patrolliehond. Die basis van enge hondekurus. Ettienne was toe konstabel. Swannue Swanepoel van Bloemfontein en sy hons Simba was saam met Ettienne in die klas. Swannie was toe sersant en is vandag a/o. Baie van die hondemanne wil nie offisiere word nie want dan kan hulle nie meer operasioneel met die hond werk nie. Ons het vroeër jare al baklei daarteen, maar dit was en is nog steeds hoe dit is. Wanneer die ouens dan naby aftree kom en hy weer nuwe hond moet oplei dien hulle aansoek vir bevordering. Dit verhoed ook dat hy nie sy hond moet afstaan nie. Baie keer kom verplasing ook by. So baie geluk, Ettienne. Ek is trots op jou.

twaalfboor ·

Anel eks al 36jaar in die polisie. Stem nie saam met jou oor die manne se bevorderings geleenthede nie. Ek verstaan daars min van dit op stasie en eenheid vlak, maar om na 25jaar nog ń A/O of sers. te wees net sodat jy met jou hond kan werk is bietjie dik vir ń doller. As jy daai manne vra of hulle ambisie het om bevorder te word na ń offisier sal hul beslis “ja” sê.

Sonneblomkind ·

So dankbaar vir hierdie manne in blou met hul vier potige skaduwees wat ons veilig hou en sulke goeie werk doen. Dit is awesome om biekie oom goeie prys te hoor vir hulle. Mag hulle geseend wees en elke dag beskerm word

Nico ·

Dit is uiters swak van die Cele en die SAPD dat hierdie man na 25 jaar nog steeds ‘n Adjudant Offisier is, daar is min sulke manne in die SAPD. Deesdae begin jy skaars en kry die rang van ‘n sersant. Maak soos die Duitse polisie, sodra jy klaar is met jou opleiding ontvang die rang van 2de Luitenant.

Sandra ·

“Sy is my bondgenoot, kollega en bowenal ’n familielid.” Wat ‘n pragtige stelling en ‘n pragtige storie. Ek volg altyd stories oor enige polisiehond en hulle menslike kollegas. Ek bly in PE so ek volg ook die twee se reddings en soektogte. Misty jy is ‘n wonderlike hond, en so slim om saam met jou kollega AO Gerber mense in nood te help, en ook die donker sy van julle soek en redding te trotseer. Ao Gerber, sy doen dit nie omdat sy braaf en opgelei is om dit te doen nie, sy doen dit omdat sy jou as haar vriend en kollega beskou. Hulle sal enigiets vir ons doen. Dit is ‘n goeie ding dat sy vrou nie jaloers is nie, want Ao Gerber het ‘n pragtige vierpotige kollega. Mooi so Misty. Doen so voort.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.