Polisiehoof dalk gou geskors: ‘Hele SAPD moet ondersoek word’

khehla-sitole

Genl. Khehla Sitole die hoof van die SAPD. Foto: Phando Jikelo/ANA .

“Daar was die afgelope 20 jaar geen enkele nasionale polisiekommissaris wat nie onder verdenking was of skuldig bevind is aan korrupsie of ander strafregtelike oortredings onder die ANC-bewind nie.”

Volgens Ian Cameron, woordvoerder van Action Society, is die ANC se beleid van kaderontplooiing die laaste doodskoot vir die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Cameron het gereageer op pres. Cyril Ramaphosa se besluit om polisiehoof Khehla Sitole kennis te gee van sy voorneme om hom te skors.

Ramaphosa het besluit dat ʼn raad van ondersoek nou Sitole se beweerde wangedrag en geskiktheid vir sy pos as nasionale polisiekommissaris moet ondersoek.

“Soveel het die afgelope paar jaar binne die SAPD skeefgeloop en die instelling het groot verval onder leiding van Bheki Cele beleef.”

“Die SAPD moet van bo na onder goed toegerus wees. Die SAPD-leierskap moet ondersoek en verantwoordelik gehou word vir hul versuim om geregtigheid vir slagoffers te bring.”

In ʼn hooggeregshofuitspraak vroeër vanjaar het regter Dennis Davis bevind dat Sitole versuim het om met die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) saam te werk.

Die Suid-Afrikaanse Polisie-unie (Sapu) meen dat die voorneme om Sitole te skors eerder polities gemotiveerd is.

“Tien maande ná die hof se uitspraak is die president nou eers van plan om generaal Sitole te skors. Dit moet nie lyk of Sapu die nasionale kommissaris beskerm nie, maar dit is wel ʼn beginselsaak,” het Tumelo Mogodiseng, Sapu-hoofsekretaris, gesê.

“Dit is algemeen bekend dat daar ʼn twis is tussen die minister van polisie en die polisiekommissaris en dit belemmer dienslewering. Daar word al vir ʼn geruime tyd nie aandag aan hierdie aangeleentheid gegee nie.”

Volgens Mogodiseng het Sapu al verskeie kere ʼn beroep op Ramaphosa gedoen om in te gryp deur ʼn raad van ondersoek aan te stel om die hele SAPD te ondersoek en nie slegs ʼn individu nie. “Die verandering van nasionale polisiekommissarisse is nie die oplossing nie, want elke kommissaris het sy eie generaals. As die persoon van sy amp onthef word, word hierdie senior bestuurders ontevrede agtergelaat, aangesien die inkomende nasionale polisiekommissarisse nie hul dienste gebruik nie omdat hulle verkies om hul eie generaals saam te bring. Dít het gelei tot die opgeblase topstruktuur wat die hele polisiediens beïnvloed.”

Inmenging deur politici in die SAPD is ʼn probleem, en die president moet nie wegskram om dit te hanteer nie. “Die SAPD moet herstruktureringsuitdagings aanpak, wat weens politieke inmenging nie ingestel is nie en dus veroorsaak dat dienslewering daaronder ly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

29 Kommentare

Baardman ·

Cele is die grootste probleem in die SAPS, almal volg sy voorbeeld. Sy korrupsie gaan ook nog uitkom

petro ·

waneer skors jy Bheki Cele of jaag hom sommer net weg want hy is n useless minister en dan lieg jy vir ons om te sê jy werk hard om korrupsie te bekamp ek glo jy weet hoe lyk my dan is jy net so useless

Joggie ·

Daar was die afgelope 27 jaar geen enkele ANC politikus of kader wat nie onder verdenking of korrup is nie!

Michael ·

Die probleem is dat die Polisie Kommissaris elke keer ‘n politieke aanstelling is! Dit gebeur nie meer op meriete soos vroeër nie! Wanneer ‘n Kommissaris nie na die Politici se broekspype dans nie, word hy of sy verwyder! Dit is ‘n klad op die naam van SA en van geregtigheid. Dit lyk baie swak. Die ander probleem is dat die minister wat hom moet bepaal by die politiek meng in by die operasionele deel van die SAPD en vertroebel sodoende die Kommissaris se werksaamhede! Dit is ‘n gemors van politieke inmengery op bestuursvlak rakende die Generale staf wat ware polisiëring lamlê en in die wiele ry.

Trotse Boervrou ·

Ian Cameron, ek stem 100% saam. Kyk die vertoon van die polisie met die onlangse onluste in Natal. Die publiek moes die polisie van hulp wees en meestal kon die polisie net toekyk. Ek kry die paar eerbare polisiemanne en -vroue bitter jammer. Die hele topstruktuur van die polisie is seker nie betrokke nie maar die vet weet dat die HELE land weet wie moet in die pad gesteek word. Moenie een uitsonder nie want dit is wragtig nie net hy nie. Ek haal nie my hoed af vir hulle nie maar trap eerder op daardie “HOED”…..

Magda ·

Kom daarvan as kriminele di land regeer. ANC _ ALL NATIONAL CRIMINALS. Tyd dat die ANC EN EFF VERWYDER word as n POLITIEKE PARTY. Altwee partye BETEKEN SA SE ONDERGANG, EN ALTWEE PARTYE HET DIT AL OOR EN OOR BEWYS. GEEN GOED IN ENIGE VAN HULLE NIE, NET SELF VERGRYPING. VERWYDER HULLE ASAP.

Harley Davidson ·

Die polisie moet net soos in die VSA ‘n sherrif departement in elke area hê dit sal tot gevolg hê dat die polisie/wetstoepassing van die area af kom en gekeur word deur die mense self.Die rekruut wat huidigin die Noordkaap bly en in pretoria gestasioneer is vir hom is dit net ‘n werk maar iemand wat in pretoria bly en groot geword het vir hom is dit ‘n saak van trots.

Anel ·

Nie meer nie, hoor. Vir die meeste is dit net nig ‘n “jooob”.

koos10 ·

Amper in my koffie verstik eergister toe ek op die nuus hoor dat Cele die TRT ontplooi in Mamelodi. Cele nie die SAPS bestuur nie!

Di ·

Ja nee die nar moet seker nou iets positief doen om die pos van polisiekommissaris in te palm. As hy eers die pos gekry het is hy te sleg om sy werk te doen nes al die ander.

Aai ·

Roer hulle Cyril.Beki ook betrokke hoekom wil hulle ons ontwapen mafia staat.

koos10 ·

Aai, Cyril kan nie eers sy koffie roer nie! Hy is deel van die gemors of dalk verantwoordelik daarvoor. Cele is deur hom aangestel.

Nico ·

Hierdie kamtige moontlike skorsing is net ‘n verkiesings foefie. Dit sal sloer en na die verkiesing verdwyn dit in die niet.

Meeste van die politieke partye blaf nou oor verskeie aangeleenthede tot na die verkiesing. Dan is dit weer rus- en skeptyd tot die volgende verkiesing.

Genis ·

Ek dink ons is die korrupste land in die wereld, en ook die grootste bespotting

Piet ·

Dit als is net oëverblindery sodat dom kiesers weer moet stem vir cyril en sy clowns!!!!Beki is nog slegter en kom niks oor nie!!!!Hiervan gaan niks kom nes jz sin!!!!!

JohanR ·

Skop Bheki Cele onder sy sitvlak uit, en kry ‘n de Ruyter in om na die SAPS te kyk van kop tot toon en skoon te maak. Die vrot begin by die kop!

Ria ·

As ANC alle korrupte amptenare ontslae van kon raak, sal hulle nie meer bestaan nie. Klomp skelms en uitbuiters

Mariana ·

Daar is baie eerbare polisiemanne en vroue, maar ongelukkig word die SAPD in sy geheel veroordeel as gevolg van Cele en die wat kriminele neigings het. Vroeër jare kon mens trots wees op ons polisie, nou by uitsondering van paar, is dit nie iets om op trots te wees nie.

Henk ·

Een groot sirkus. Hoe Kan die ANC ooit aanvaar word as n waaridge party as hulle sulke klomp onbekaame mense aanstel. Ek begin sommer suip.

Swerwer ·

Na 20 jaar het daar iewers ‘n liggie by een van die ANC kaders begin skyn ! Wau !mag daar ‘n positiewe ontlonting gebeur dat bevoegde, opgeleide persone in die regte poste aangestel word en B-BBBEE verdwyn. Daar is nie ‘n manier dat hierdie land gered kan word sonder die Regte Bevoegde Regering nie.

JM ·

‘n Straatveër sal ook in die polisie aangestel word solank hy die regte velkleur het.

Swerwer ·

Foto sê baie. Kyk mooi. Die gesigsuitdrukking en die vinger,

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.