Polisiehoof se segsman gelooi deur LP’s

Foto: SAPD, Facebook

Foto: SAPD, Facebook

Die nasionale polisiehoof se woordvoerder het hom Vrydag in die spervuur bevind toe hy aan LP’s moes verduidelik hoekom ʼn mediaverklaring uitgereik is wat ʼn wanvoorstelling is van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie.

LP’s het aangedui dat hulle by die minister van polisie sal kla nadat hulle Solomon Makgale, nasionale polisiewoordvoerder, ondervra het. Die LP’s was nie gelukkig met Makgale se antwoorde rakende die inhoud van ʼn mediaverklaring wat uitgestuur is nadat LP’s die nasionale en provinsiale polisiebestuur oor die vingers getik het oor hul openbare ondersteuning van Riah Phiyega, nasionale polisiehoof, nie.

Makgale het op 1 Augustus ʼn verklaring uitgereik namens die polisie se raad van kommissarisse waarin hulle glo hul steun aan Phiyega toegesê het nadat pres. Jacob Zuma haar vir redes gevra het hoekom daar nie ʼn ondersoek gedoen moet word rakende haar geskiktheid om haar amp te beklee nie.

LP’s het lede van die raad van kommissarisse, wat Phiyega se adjunk en die nege provinsiale kommissarisse insluit, op 12 Augustus oor die kole gehaal en gesê hulle moet die verklaring terugtrek. Makgale het egter nog ʼn verklaring uitgestuur waarin daar kommentaar was oor die portefeuljekomitee.

Makgale het ontken dat hy die verklaring geskryf het en daarop aangedring dat die kommissarisse die verklaring opgestel en hy dit slegs uitgestuur het. Dit het later aan die lig gekom dat al nege kommissarisse nie toestemming gegee het vir die verklaring nie.

Francois Beukman, voorsitter van die portefeuljekomitee, het gesê hulle is bekommerd dat voorstelle aan die polisie se bestuur nie ernstig opgeneem word nie. Hy het ʼn vergadering met die polisiedepartement voorgestel.

Die komitee het intussen ook aangekondig dat daar ʼn parlementêre ondersoek sal wees om vas te stel of Makgale en ander senior polisiebeamptes vir LP’s gelieg het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

CHRISTA ·

Is daar EEN eerlike ANC LP of segsman of minister in hierdie regering?

Winston ·

Kyk of hulle enigsins daaroor kan reageer?
Dis n refleksie van die hele polisiemag. Glad nie objektief en steun openlik met die offisierskorps n swak kommissaris soos Phiyega. Geen voorstelle word ernstig opgeneem nie, hoekom moet dit gedoen word? Dis in elk geval deel van die chaos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.