Polisiehoof veroordeel Brondal-plaasaanval

’n Veiligheidswag is dood en ’n boer ernstig beseer in ’n skietvoorval Maandag (2 Augustus 2021) op ’n plaas buite Mbombela (Nelspruit). (Foto: Albert Gryvenstein / Bossies Community Justice)

“Ons mag nie rus voordat al die vuurwapens teruggevind is en die verdagtes agter tralies is waar hulle hoort nie.”

Só het lt.genl. Semakaleng Manamela, polisiehoof in Mpumalanga, Vrydag oor die skietaanval gesê wat Maandag op ’n plaas naby Brondal buite Mbombela (Nelspruit) plaasgevind het.

Drie verdagtes word in verband met dié aanval gesoek.

Maroela Media het berig ’n 52-jarige veiligheidswag is tydens die voorval doodgeskiet terwyl ’n 63-jarige boer ernstig beseer is en met ’n noodhelikopter na ’n hospitaal vervoer moes word.

Drie ander mense, onder wie nog ’n veiligheidwag en twee vroue, het ligte beserings opgedoen.

Manamela sê dié wag is deur die verdagtes ontwapen, as gyselaar aangehou en aangerand.

Volgens inligting het drie onbekende, gemaskerde mans omstreeks 06:00 op die plaas toegeslaan en was hulle met minstens twee gewere en een pistool gewapen.

Die betrokke veiligheidswagte, albei van J&M/Fidelity ADT, is na die toneel ontbied om ondersoek in te stel toe hulle paaie met dié van die aanvallers gekruis het.

Die aanvallers was glo in uniforms soortgelyk aan dié van veiligheidswagte geklee.

Manamela het nou opdrag gegee dat die verdagtes spoedig vasgetrek en in hegtenis geneem word.

“Sekerlik het iemand in die gemeenskap al iets gesien of iets van die verdagtes waarna ons op soek is gehoor. Ons hoop dat lede van die publiek die polisie met inligting sal help om die verdagtes op te spoor.”

Die Vryheidsfront Plus het die afgelope week gesê dat dié aanval ’n bewys is dat die polisie, veral tydens die Covid-19-inperkingstyd, nie sy plig behoorlik sonder die hulp van plaas- en buurtwagte asook gemeenskapspolisiëringsforums kan nakom nie.

Manamela doen ’n beroep op enigeen wat inligting oor die voorval het om kapt. Johannes Motau by 082 448 9480 te bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Cherokee ·

Die ‘veroordeling’ van die polisiehoof, val op dowe ore. Ons dink (vergewe my, as jy niè een van ons is nie, om jòu by ons in te sluit) die veroordelingsrympie is bloot joernalistieke rympies om meer woorde in die berig te skryf. Ons lees dit by èlke soortgelyke berig, en moet nie vertel dat elke een wat om verslag gevra word, dieselfde veroordelings-rympie opsê nie.
Askies dat hièrdie kommentaar die SA’frikaanse sentiment verwoord, maar miskien verteenwoordig die gesneuwelde wag, die swart gemeenskap. wat die simpatie van die polisiehoof ontlok het.
Miskien harde woorde, maar SA’frikaanse politiek dwing dit af. Ons is ook jammer vir die sekuriteitswag se familie, maar wonder waar die sentiment werklik setel.

Persheks Adri ·

Hou op veroordeel en doen iets julle word immers betaal vir die patesiese diens pffft! Hoed, jy het baie bloed op jou hande hoop jy slaap lekker in die aand

Anel ·

Nou hoekom het die sekuriteit hulle nie gearresteer nie? Hulle het dan paaie gekruis, of verstaan ek verkeerd?

Excalibur ·

Midadiger/s onteien slagoffer/s tot sy/haar/hul reg tot “Lewe”, “Vryheid van beweging & assosiering”, “Vrede”, “Beskerming”, ens i. t. v. die wonderlike SA Grondwet wat ONS as LANDSBURGERS moet beskerm. Die SAPD het tans nie die kapasiteit, bekwaamheid, durf & daad om hierdie misdadigers vreesloos te ondersoek en voor die Gereg te daag nie. Tweedens is die Gereg amper in dieselfde posisie as die SAPD en te genadig om hierdie misdadigers ooreenkomstig te straf en uit die gemeenskap wat die Midadiger deur sy dade Misken het te verwyder nie. Myns insiens MOET geregtigheid seevier d.m.v. daad en onverskrokkenheid en daarom sal sake slegs regkom wanneer die Regering en Gemeenskap saamstaan en verklaar dat ‘n misdaad gepleeg; ‘n misdaad nie net teen die slagoffer/s is nie maar ook teen die Staat en die Samelewing wat in Vrede wil floreer! Dus vaardig n wet uit wat se: Misdadiger/s VERLOOR dienooreenkomstig onmiddelik sy/haar/hul Grondwetlike reg met die pleeg van misdaad …

Harley Davidson ·

Dit is n baie goeie gebaar en ‘n stap in die regte rigting,maar wat ons wil hoor is wat gedoen gaan word en wat hy in plek gaan sit om so ‘n aanval te stop voor dit gebeur ,die polisie het ‘n mindset van ondersoek en vang die skuldiges in pleks van voorkom sulke aanvalle.

SjN ·

Die regering gaan niks daaraan doen nie, dit is n groot bron van inkomste tov Btw

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.