Polisiekaptein, nog 4 vas oor ‘stropery’

Argieffoto: Susan Scott

ʼn Plaasbestuurder van Limpopo sal vandeesweek in die Lenyenye-landdroshof buite Tzaneen om borgtog aansoek doen nadat renosterhorings, olifanttande en ongelisensieerde vuurwapens verlede week op ʼn wildreservaat in dié gebied gevind is.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale woordvoerder van die polisie, het gesê ’n taakspan het Donderdag op die reservaat toegeslaan waar Samuel Liversage (68), die bestuurder, in hegtenis geneem is. Die reservaat is deursoek en daar is op tien renosterhorings, twee olifanttande, elf vuurwapens, meer as 1 300 koeëls en 150 leë patroondoppies beslag gelê.

Volgens Naidoo is vier van die 11 vuurwapens ongelisensieer. Al die vuurwapens is egter vir ballistiese toetse gestuur. Liversage het Vrydag in die Lenyenye-landdroshof verskyn waar die saak tot eerskomende Donderdag uitgestel is.

Volgens Naidoo kom Liversage se inhegtenisneming kort nadat vier mans, insluitend ʼn polisiekaptein, Saterdag 12 Augustus op ʼn Limpopo-plaas in hegtenis geneem is op aanklagte wat met wildstropery verband hou.

Naidoo het gesê die taakspan het inligting ontvang dat vermeende stropers by die oostelike hek van die wildsplaas sal uitgaan en die taakspan het die verdagtes daar ingewag. Daar het hulle kapt. Chris du Plessis gevind wat besig was om drie mans, Martinus Jacobus Boschoff (32), Magiel Frederick Klopper (61) en Joseph Mkhokha (42), te begelei wat na bewering ʼn kameelperd gestroop het.

Die taakspan het die kaptein ondervra en sy voertuig deursoek, waar hulle ʼn ongelisensieerde rewolwer, ʼn loop van ʼn .270 geweer, ʼn kolf van ʼn geweer en ongeveer 70 koeëls gevind het. Die ander drie verdagtes het ʼn .303-jaggeweer, ʼn knaldemper, ʼn teleskoop en meer as tien koeëls in hul besit gehad.

Die kaptein en die ander drie verdagtes is in hegtenis geneem. “Daar is ook op die lisensie vir die .303-jaggeweer en die Isuzu-bakkie waarmee hulle gery het beslag gelê,” het Naidoo gesê.

Hy het gesê Boschoff, Klopper en Mkhokha het Maandag in die Hoedspruit-landdroshof verskyn op aanklag van die verwydering of verskuiwing van ʼn gekontroleerde diersoort sonder ʼn permit. Hulle is almal op borgtog van R800 elk vrygelaat en moet weer op 28 Augustus in die hof verskyn.

Du Plessis het ook Maandag in die hof verskyn en weer Donderdag, waarna die saak tot 28 Augustus uitgestel is. Hy bly in polisieaanhouding tot sy formele borgtogaansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Chrisjan ·

Ai tog hoe kan mense hul lewens so weggooi vir geld.Dis erg!

Hannelize ·

Is dit nie die selfde “kaptein” wat so ruk terug ook betrokke was by renoster stropery nie?

Grassie ·

Maroela – ‘n koeël is net die voorste punt van ‘n patroon wat afgevuur word, m.a.w. die missiel wat voor by die loop uitkom. Was die mense nou in besit van patrone (kan ook ammunisie genoem word) of koeëls gevind?

Hanna ·

Skande dat dit 3 blankes is.
Nou gaan hulle families weer met die gevolge sit.
Ons land sukkel al so lank om al díe stropers vas te trek, nou kry hulle net R800- borgtog.
Nee wat, dit klink na goeie besigheid as mens so Lig daarvan afkom as jy gevang word.
Die manne weet mos waarvoor hulle hulleself inlaat.
Borgtog behoort so swaar te wees dat hulle nie die kans sou wou vat nie.

Realis ·

Jip ou Chris……….wou mos jaar of wat terug ” moonlight” as n PH en is ook toe uitgevang………..
Hopelik word die Hoedspruit area nou bietjie gesuiwer van al die oneerlike manne wat in die jag en wild bedryf is…………………

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.