Polisiekaptein se ‘moordenaars’ hul prokureur kwyt

Argieffoto

Argieffoto

Die vier verdagtes wat daarvan beskuldig word dat hulle die Pretoriase polisieman kapt. Kenneth Poortman vermoor het, is hul prokureur kwyt omdat hulle glo nie sy dienste kon bekostig nie.

Alfred Tlou, Thabo Mampa, Themba Mbowane en die Zimbabwiër Steven Meda het Dinsdagoggend in die Pretoria-landdroshof voor hooflanddros Desmond Nair verskyn op aanklagte van moord, roof en ontvoering. Poortman is in Desember in die Pretoriase middestad ontvoer, waarna sy lyk in Mabopane in die veld gelaat is.

Die beskuldigdes se prokureur, wat net as adv. Mogashoa bekendstaan, het aanvanklik aan die hof gesê dat hy hom aan die saak onttrek omdat hy nie behoorlike instruksies van sy kliënte ontvang het nie. Dit het egter later aan die lig gekom dat die beskuldigdes nie sy dienste kan bekostig nie.

Nair het aan die vier verdagtes verduidelik dat die staat bereid is om voort te gaan met die verhoor. “Die staatsaanklaer, Sipho Letsoalo, sal egter borg teenstaan,” het hy gesê.

Tolkdienste van Engels na Shona was Dinsdag beskikbaar vir Meda, nadat hy Maandag aangedui het dat hy Engels “net ʼn bietjie verstaan”.

Die vier verdagtes sal vermoedelik vir regshulp aansoek doen, maar verrigtinge is verdaag omdat regshulpprokureurs nie in die hof teenwoordig was nie.

Lees alle vorige berigte oor kapt. Kenneth Poortman op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Piet Snot ·

Komaan manne, dis mos darem ou gebruik dat ‘n regsverteenwoordiger hom onttrek weens “gebrek aan finansiële instruksies” – elke landdros & regter verstaan daai kode.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.