Polisieklerk vas vir beweerde korrupsie

Argieffoto

ʼn Administratiewe klerk van die polisie het Maandag op aanklagte van korrupsie in die Giyane-landdroshof in Limpopo verskyn.

Dit kom nadat die betrokke persoon glo geld ontvang het om ʼn werksaansoek vinniger af te handel.

Volgens kapt. Matimba Maluleke, woordvoerder van die polisie, is die 43-jarige klerk Saterdag in hegtenis geneem nadat die persoon glo ʼn kandidaat belowe het dat die se werksaansoek vir ʼn pos in die polisiediens vinniger afgehandel sal word in ruil vir R10 000.

Die klerk was glo deel van menslike hulpbronne by die Giyane-polisiestasie en was verantwoordelik vir die werwing en aanstelling van personeel in die plaaslike polisiediens.

Die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie het die inhegtenisname van die klerk verwelkom. Volgens Francois Beukman, voorsitter van die komitee, is die uitroei van korrupte elemente in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) die eerste stap in die versterking van openbare vertroue en geloofwaardigheid in die polisie.

“Dit is onaanvaarbaar dat hierdie administratiewe klerk sy of haar gesagsposisie gebruik het om omkoopgeld van R10 000 van werkversoekers te eis ten einde hul aansoek te verwerk.

“Hierdie afkeurenswaardige gedrag is teen die etos van ’n bekwame staatsdiens wat gehaltediens moet lewer,” het Beukman gesê.

Beukman maan dat indien die klerk skuldig bevind word, die betrokke persoon die gevolge van hul misdade moet aanvaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

willem Botha ·

Is die groot meerderheid van hulle nie maar so nie gemeet aan die ernstige misdade wat net meer en meer gebeur.

Helen ·

Voorvalle soos die is werklik bejammeringswaardig want dit veroorsaak dat eerlike en hardwerkende geregsdienaars deur die publiek oor dieselfde kam getrek word, nl dat hul almal korrup en oneerlik is en dit terwyl dit nie die waarheid is nie. Dis onwelkome elemente soos die wat op die daad afgedank moet word sonder vergoeding en ‘n intensiewe ondersoek moet gedoen word. Jammer vir die eerlike geregsdienaars daar buite wat werklik ‘n verskil maak maar wat as gevolg van die tipes altyd afgekraak en sleg gemaak word, my hart gaan uit na julle!

Gert van Wierdapark ·

Ja nee, so kort voor die verkiesing ruik hulle darem nou die “Groot Visse” uit! Dit help om die kleingeld te vang, maar dis die R miljarde se skurke/skelms wat genadeloos gejag moet word!!!!

Michelle ·

Kyk hy net tronk toe gaan asseblief sonder om belasting betaler se geld te mors.

Doris ·

Ek is bly hulle begin die mense wat in die diens van die Polisie is vas te vat want van hulle dink hulle is bo die ander mense verhewe en maak net soos hulle wil.Ons worstel al agt jaar en kan nie glo hoe slinks is party van hulle nie.. Dan kom hulle weg met dit maak nie saak van jou skade en verliese nie. Vat hulle vas ek dink dit is nou tyd dat die Polisie van al die vrot appels moet ontslae raak. Die e-pos is reg ek dink in elk geval nie julle hou van die waarheid nie so plaas dit.

1+1 ·

As belastingbetalers moet ons begin aandring op syfers wat die terugvind van geld wat deur bedrog verdwyn het. Ons hoor net van die syfers wat verdwyn het.

Sakkie ·

Jy kan nie van wolf skaapwagter maak nie. ‘n ou gesegde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.