Polisiekommissaris moet antwoord ná parlement-skietvoorval

Die toneel by die parlement in Kaapstad. Foto: ANA

Die nasionale polisiekommissaris sal voor die parlement opgeroep word om te verduidelik hoe die sekuriteitsmaatreëls by die instansie dermate kon faal dat ʼn personeellid homself Vrydag op die perseel doodgeskiet het.

Francois Beukman, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het gesê die voorval laat ernstige vrae ontstaan oor polisiebeamptes wat by die parlement ontplooi is, die bestaande prosedures en die algemene operasionele gereedheid van die SAPD.

Hy het bygevoeg die parlement is ʼn nasionale sleutelpunt en die voorval plaas die kollig op die swak toegangsbeheer en veiligheidsifting wat by die perseel gedoen word.

“Die portefeuljekomitee is diep bekommerd dat die SAPD-bestuur versuim het om te verseker dat daar behoorlike veiligheidsmaatreëls by die parlement is,” het hy gesê. Hy het beklemtoon die polisie moet verseker dat sekuriteitstandaarde by die parlement op dieselfde vlak is as by ander parlemente oor die wêreld heen.

Beukman het gesê hy sal aan Cedric Frolick, die huisvoorsitter van die parlement, skryf om toestemming te kry om ʼn vergadering met die nasionale polisiekommissaris tydens die parlementêre reses te belê.

Intussen het die ANC sy skok en hartseer oor die voorval uitgespreek. Jackson Mthembu, hoofsweep van die regerende party, het gesê die voorval het die hele parlement geskok en getraumatiseer gelaat.

Die toneel by die parlement in Kaapstad. Foto: ANA

“Hierdie voorval laat ook kommer ontstaan oor die veiligheidstelsels in die parlement, spesifiek hoe ʼn vuurwapen ongesiens in die perseel en verby ons sekuriteit kon kom. Hierdie saak word ondersoek om te verseker dat dit nie weer in die toekoms gebeur nie,” het Mthembu gesê.

“Die ANC betuig sy opregte medelye met die familie, vriende en kollegas van die oorledene.”

Die DA het hierby aangesluit deur ook die party se medelye aan die oorledene se naasbestaandes te betuig. “Ons verwelkom die parlement se besluit om berading aan al die personeellede te bied. Ons gedagtes en gebede is saam met almal wat deur hierdie tragedie geraak word,” het John Steenhuisen, hoofsweep van die DA, gesê.

Maroela Media het vroeër berig ʼn senior amptenaar het Vrydag homself in ʼn gebou op die parlementêre perseel om die lewe gebring. Dit is nie seker wanneer die oorledene die vuurwapen by die gebou ingesmokkel het nie. Die gebou is aan streng veiligheidsmaatreëls onderworpe, maar omdat die man baie senior veiligheidsklaring gehad het, is dit moontlik dat hy nie persoonlik ondersoek is nie.

Die oorledene se kollegas het ná die voorval gesê hy het die afgelope tyd gekla oor erge werksdruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Judge Dredd ·

Ironie – die politiekuste bevraagteken die SAPD se bevoegdheid, maar is die politici nie grootliks verantwoordelik vir die agteruitgaan van die SAPD?

Die politici wil by parlement dieselfde sekuriteit standaarde handhaaf as by ander lande – kan ons as landsburgers wat jul politici en SAPD se salarisse betaal nie maar asseblief ook dieselde op aandring nie?

Sleutelman ·

Verban sleutelpunte en wapenvrye sones en siedaar, geen sekuriteitsbreuke!

Moordvry ·

Ek stem saam daar Stemuetel. Terwyl ons nou besig is met veranderinge aan die Grondwet, kan ons sommer ook aanwysig dat moord nou loegelaat kan word, dan het ons ook nie meer n moord probleem.

Lana ·

Nog ‘n bewys – daar is nie meer iets in SA wat reg funksioneer nie.

Own Goal ·

Die Suid-Afrikaanse Polisie Diens is sy eie grootste vyand. Ek sien persoonlik hoe hulle dag vir dag in die howe en voor parlementêre portefeuljekomitees pak kry. Die domastrandheid waarmee hulle met hierdie tergwysings omgaan, is absoluut weersinswekkend. Die leierskap is skitterend in hul sotterny.

Adrie ·

Ek sal self ook my alie afvee as ek in n hof of n komitee “pakslae” kry. Beide daai instellings beteken net iets in hul eie ogies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.