Polisiekommissarisse steun Phiyega

Die nasionale polisiekommissaris genl. Riah Phiyega (Junie 2015) Foto: GCIS

Die nasionale polisiekommissaris genl. Riah Phiyega (Junie 2015) Foto: GCIS

Suid-Afrika se nege provinsiale polisiekommissarisse het hul steun aan die nasionale kommissaris, genl. Riah Phiyega, gegee en gesê hulle is besorg oor die “onregverdige en negatiewe houding” teenoor haar.

Die Raad van Kommissarisse van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, ʼn struktuur wat die nege provinsiale kommissarisse verteenwoordig, het Saterdagaand ʼn verklaring uitgereik waarin sy volle ondersteuning vir hul hoof gegee word.

Die Farlam-kommissie van Ondersoek, wat die 2012 Marikana-slagting in Noordwes ondersoek het, het in sy verlag, wat verlede maand vrygestel is, aanbeveel dat die nasionale kommissaris ondersoek moet word vir haar geskiktheid om in haar amp te dien. Phiyega moes voor Vrydag skriftelik haar redes by pres. Jacob Zuma indien waarom sy nie ondersoek moet word nie. Sy het haar reaksie Vrydagaand net voor 23:00 ingedien. Klik hier om meer te lees.

Die Raad van Kommissarisse het Saterdag gesê hy eis “besorg oor die voortdurende onregverdige en grootliks negatiewe houding jeens die nasionale kommissaris”. “Die raad merk ʼn neiging om alles te verklein, veral negatiewe kwessies wat met polisiëring verband hou, tot een persoon, die nasionale kommissaris, asof die SAPD ʼn een-man-vertoning is. Dit is daarom vanpas dat die raad openlik sy volle ondersteuning aan genl. Phiyega toon, en ten volle haar pogings om die SAPD om te keer, ondersteun. Ons is genoop om hierdie houding in te neem, aangesien anonieme bronne die media onder ʼn verkeerde indruk plaas dat ons ontevrede is met die nasionale kommissaris,” lui die verklaring.

Volgens die raad is mediaberigte oor ʼn lae moraal, partydigheid, en ʼn deurmekaar stand van sake binne die SAPD ongegrond. “As die SAPD se topbestuur, wat nou saam met genl. Phiyega werk, is ons verras deur hierdie berigte, aangesien ons moraal nie in enige stadium laag was nie. As die nege provinsiale polisiekommissarisse is ons toegewyd om saam ons werk te verrig, saam met ons lede, en ons sal onverpoosd voortgaan daarmee.”

Die raad het ook genoem dat nie een van die bestuurstrukture binne die SAPD ʼn besluit geneem het om nie die voorlegging aan die Farlam-kommissie van Ondersoek te steun nie. “Dit is nie waar dat die huidige bestuur taakspanne bó speurders prioritiseer nie. Die feit van die saak is dat die spanne wat ons opgestel het, baie suksesvol is. Die speurders by polisiestasies, sowel as by die betrokke gespesialiseerde eenhede, gaan steeds voort om hul pligte uit te voer en merkwaardige sukses te toon.

“Die sake wat met [Radovan] Krejcir, [Christopher] Panayiotou, winkelsentrumrooftogte, vragmotorkapings, bendebedrywighede en dwelms verband hou, word deur multidissiplinêre spanne hanteer. Die taakspan wat fokus op kapings van vragmotors wat sigarette vervoer, het noemenswaardige vordering gemaak en dieselfde kan gesê word van die sogenaamde lughawe-agtervolgingsake.

“Die statistiek is duidelik. Die kern van die sukses is ʼn nouer verhouding tussen speurders en misdaadintelligensie, wat glo disfunksioneel is, as iemand die berigte wou glo.”

Volgens die raad was die misdaadintelligensie-eenheid “in die waakeenheid, met talle kwessies wat in die media ontbloot is”. “Die afdeling is nou uit die waakeenheid en die resultate is duidelik. Die leierskap het gestabiliseer ná 26 vaardige bestuurders aangestel is om die omdraaistrategie te dryf wat die SAPD-doelwitte ondersteun. Teen April volgende jaar sal ons ʼn bykomende 900 polisiebeamptes aangestel hê.”

Die raad het ook in die uitgebreide verklaring gewys op die suksesse wat behaal is danksy die misdaadintelligensie-eenheid, en het gesê die doelwitte vir 2014/15 wat aan die parlementêre polisie-portefeuljekomitee voorgehou is, insluitend die 32 507 operasies en die skep van 261 193 intelligensieprodukte om prioriteitsmisdade aan te spreek, is op dreef en sal moontlik oorskry word.

Die raad het ook gesê die speurdiens werk daaraan om die skuldigbevindingskoers te verbeter, gesoekte misdadigers op te spoor en beter dienslewering te verseker.

Die verklaring word ook ondersteun deur die adjunk- nasionale kommissaris van korporatiewe dienste, lt.genl. Nobubele Mbekela, die adjunk- nasionale kommissaris van polisiëring, lt.genl. Kehla Sitole en die waarnemende streekskommissaris lt.genl. Bongiwe Zulu.

“Elke individuele provinsiale kommissaris ondersteun hierdie verklaring.”

Lees die volledige verklaring hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

J.Z ·

Almal is verkeert behalwe die paar hoe koppe!!! .Hier is baie goeie raad,dink daaraan om dienste te verbeter en nie die helle land en media die skuld gee nie vir die naam wat aan julle kleef nie,werk vir n beter naam,en moetnie dit deur praat te probeer verbeter nie,n Verkeert kan nie reg gepraat word nie,wel reg gewerk.

Pietie ·

Niemand is so verkeert soos die een wat nie eers weet hys verkeert nie!

Johann Marx ·

Weet die polisiemanne by my polisiestasie van al hierdie inisiatiewe en suksesse? Kom kyk self, dan vertel jy my…..want ek sien dit nie.

Gerhard Bezuidenhout ·

Die klomp maak haar rug toe om hul eie agterente te beskerm . Dit is n feit dat n vis van sy kop af vrot word. Ons polisiediens met die uitsondering van n paar lojale polisiemanne , hulle is uiters min , is n grap en eerder n rampokkerbende.

Winston ·

Dis omdat die SAPD maar net nog n werksgeleentheid skepping is. Daar is maar min sigbaar van n polisie mag. Kyk na die misdaad. Verkragtings moord roof en dis nie eers minder ernstige misdaad ingesluit nie. Nee wat. Weereens maar n cover up soos die leiers wat die stinkkende viskop is. Wen deur getalle nie vermoëns nie.

George ·

Dit is ongelukkig niks anders as ‘n toesmeerdery. Nog ‘n manier om jou eie korrupte onbevoegdheid weg te steek.

Hennie ·

Is ‘n herhaling van Nkandla, Min van Polisie is deur JZ aangestel, Prov. Kommissarrisse is deur Nas. Kom. aangestel, sal nie teen haar gaan nie. Bleik te wees dat nie een van hul wil SAPD voorentoe vat nie maar net meer laat vrot, ek skaam my want ek het van hul verwag om liewer dan still te bly en nie hulle onkunde te openbaar nie.

Gert van der Merwe ·

Laat sy sommer die nege ook saam met haar vat. Hulle is bowendien net so useless soos sy.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.