Polisiekonstabel en vriend in Wes-Kaap doodgeskiet

(Foto: SA Polisie)

ʼn Polisiekonstabel en een van sy vriende is Donderdagaand doodgeskiet in Bardale, Mfuleni, ʼn informele nedersetting in Kaapstad.

Brig. Novela Potelwa, woordvoerder van die polisie, het gesê die 25-jarige konstabel Thobinceba Xhontelo het saam met ʼn vriend en vriendin in ʼn motor gery en stilgehou toe hy besef daar is ʼn voertuig wat hulle agtervolg.

“Die insittendes van die voertuig het op hulle losgebrand en hom buite die motor doodgeskiet. Die skieters het toe ook verskeie skote op die motor gevuur wat Xhontelo bestuur het. Die verdagtes het daarna van die toneel gevlug,” het Potelwa verduidelik.

Een van Xhontelo se passasiers, ʼn 24-jarige man, het op pad na die hospitaal aan sy beserings beswyk. ʼn 32-jarige vrou het ʼn skietwond in haar been opgedoen en is in die hospitaal opgeneem.

Beamptes van die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) stel verder ondersoek in.

Lt.genl. Yolisa Matakata, provinsiale polisiekommissaris, het sy meegevoel betuig met Xhontelo se familie en kollegas. Sy betreur die sinnelose moord op ʼn polisiebeampte wat op die kruin van sy lewe was.

Xhontelo was by Kuilsrivier-polisie gestasioneer. Hy het in Desember 2019 uit die polisie-akademie passeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae