Polisiekonvooi in botsing betrokke

Foto: Verskaf.

ʼn Polisiekonvooi was Donderdag laatmiddag in ʼn botsing met ʼn voetganger betrokke.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn motorfiets het die konvooi uit Pretoria gelei en toe met ʼn voetganger gebots by die Fonteine-sirkel.

“Die voetganger en die polisiebeampte wat die motorfiets bestuur het, is beseer en is albei na ʼn hospitaal vervoer vir verdere behandeling.” Volgens Naidoo het die konvooi nie ʼn baie belangrike persoon (BBP) vervoer ten tyde van die voorval nie.

“Die presiese omstandighede rondom die voorval kan nie in dié stadium bekend gemaak word nie. Dit is ʼn ongeluk waarby staatsamptenare betrokke was. Die ongeluk word ondersoek,” het Naidoo aan Maroela Media gesê.

“Onthou, ʼn konvooi moet altyd bymekaar bly; hulle mag nie van mekaar geskei word nie. Hulle mag ook enige tyd met hul blou ligte aan ry as hulle aan diens is. Mense neem altyd aan hulle jaag, maar dit kan in dié stadium glad nie bevestig word nie.”

Volgens Naidoo is die voetganger steeds in die hospitaal, maar in ʼn stabiele toestand. Die polisiebeampte is reeds ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Landi ·

Ons neem nie aan dat hulle jaag nie….HULLE DOEN DIT, Glo my ek kry hulle gereeld op die Ben Schoeman Hoofweg. Hulle jaag en voel vere vir enige iemand, ons moes verlede Vrydag lettlerlik van die pad aftrek sodat hulle kan verby jaag

Soekie ·

…en dan kan ek julle waarborg hulle weet nie hoe werk ‘n verkeersirkel nie….

Oudste ·

“Volgens Naidoo het die konvooi nie ‘n baie belangrike persoon (BBP) vervoer, tydens die voorval nie.” Indien dit dan nie ‘n sogenaamde BBP was wat vervoer was nie, hoekom die rede vir die konvooi en dat die konvooi gelei was deur ‘n motorfiets, soos in geval van ‘n BBP? Lyk my elke hond en sy vlooie word nou deur konvooie rond ge-taxi. Piesangskil republiek, so gly gly gaan ons stadig nerens heen nie.

Lou ·

Hulle kan nie dadelik sê nie want hulle het tyd nodig om die storie te bekook.

B-man ·

Dis dalk ‘n taakmag wat op pad was om klopjag uit te voer, gesteelde motor op te spoor of plaasaanval wou keer. Gaan kyk gerus op YouTube na ‘n video waar motorfietspolisieman so ‘n konvooi vergesel en lei op pad na misdadigers se huis. Boewe vlug en hy sit hulle agterna, teen hoë spoed, skiet op hulle en neem in hegtenis. Baie opwindende video met helmkamera geneem (NO FEAR South African police officer on bike chasing thugs).

Sal maar in die vervolg net oordeel wanneer hulle “BBPs” vergesel, nie wanneer hulle dalk besig is om hulle werk te doen nie.

Em ·

‘n Voertuig “bots” nie met ‘n voetganger. Die bestuurder van ‘n voertuig ry ‘n voetganger raak!

Swartkat ·

Ek het geleer die motor bestuurder moet vir die voetganger dink en altyd bedag wees op wat moontlik kan gebeur

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.