Polisielede dood, gewond aan diens in die Vrystaat

(Argieffoto ter illustrasie: SA Polisie)

Twee polisielede van die Vrystaat is gisteraand geskiet terwyl hulle aan diens was.

Die twee sersante, ʼn man en ʼn vrou, het Saterdag om 18:00 vir diens by die Vierfontein-polisiestasie aangemeld.  “Teen ongeveer 21:05 het die manlike sersant die bevelvoerder by die gemeenskapdienssentrum gebel en beangs gerapporteer dat hulle aangeval en op geskiet word deur ten minste drie verdagtes,” sê Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder.

Die twee sersante het ʼn verdagte voertuig gevolg van Vierfontein af tot by ʼn restaurant in Orkney. Hulle het uit die kar geklim om die verdagtes te konfronteer. Die verdagtes het ook uit hul voertuie geklim en met die polisielede begin argumenteer voordat hulle op die polisielede losgebrand het. “Albei sersante se dienspistole en ammunisie is by hulle afgeneem,” sê Peters.

Peters sê die manlike sersant is op die toneel dood nadat hy in die bors geskiet is. Die vroulike sersant is in die been geskiet en in die hospitaal opgeneem, waar sy tans in ʼn stabiele toestand is. Die rowers is vort met die polisie se wapens. ʼn Saak van moord, poging tot moord en roof van staatseiendom word ondersoek.

Bheki Cele, minister van polisie, het sy medelye met die familie en kollegas van die gestorwe polisielid betuig en gesê hy hoop die gewonde lid sal vinnig herstel. “Die polisie moet niks en niemand ontsien om te verseker dat hierdie kriminele gevind word en die volle mag van die gereg ervaar nie,” sê Cele. Die Valke, misdaadintelligensie en polisiespeurders is ontplooi om die saak so vinnig moontlik op te los.

Intussen is die sewende verdagte vas vir die moord op ʼn polisieman in Port Elizabeth. ʼn Dertigjarige verdagte sal na verwagting Maandag in die Mthatha-landdroshof verskyn nadat hy Vrydag in hegtenis geneem is vir die moord op konstabel Lonwabo Soga (26) in Koffiebaai. Soga is op drie Desember koelbloedig doodgeskiet terwyl hy aan diens was.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

hoe lank gaan die polisie lede hul lewe waag, voordat hulle hul bedankings gaan ingee
‘n mens kan sover gaan, dan besef jy dit is nie ‘n lewe werd om op diens dood geskiet te word nie

Sarel

Maar jy Minister Cele wil wetgehoorsame burgers ontwapen. Vang die mense, eerstens vertel hulle moet huule self ontwapen as deel van Wapen Vrye SA en dan laat wzpens inhandig as deel van die Amnestie program. Dan word hulke vrygelaat wznt daar is geen wapens om hulle met die voirval te verbind nie. Jy verkoop jou eie mense uit

Pieter J

Ek voel die polisie moes versigtiger gewees het want hulle was mos deeglik bewus daarvan dat hierdie ouens gewapen was en nie skroom om te skiet nie.