Polisielede gewond in Rustenburg-rooftog

(Argieffoto: SA Polisie)

Twee polisielede verbonde aan die blitspatrollie in Rustenburg, Noordwes, is gewond toe ʼn bende gewapende rowers op hulle losgebrand het.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder, het gesê ʼn soektog is van stapel gestuur na die vier mans wat Maandag omstreeks 13:30 ʼn supermark in Arendweg in die stad beroof het.

“Die verdagtes het glo ʼn kasregister leeggemaak en toe uit die winkel gehardloop. Daar word aangevoer hulle het ʼn polisiebeampte, wat net op pad was om by die winkel in te gaan, opgemerk en sy vuurwapen afgeneem. Hulle het glo hierna verskeie skote gevuur op ʼn voertuig van die Rustenburg-blitspatrollie wat in die parkeerarea was.

“ʼn Sersant en ʼn adjudant-offisier is in die hand en arm gewond,” het hy gesê.

Die verdagtes het daarna in ʼn silwerkleurige Volkswagen Polo gevlug.

Die beamptes is na ʼn hospitaal vir behandeling geneem en een van hulle is reeds ontslaan.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het die voorval veroordeel en opdrag gegee dat die polisie se 72 uur-aktiveringsplan in werking gestel word om die bende op te spoor. Ingevolge dié plan word lede van onder meer misdaadintelligensie, die Valke, die forensiese afdeling, speurdienste en ander afdelings gemobiliseer sodat leidrade so gou moontlik opgevolg kan word.

Die polisie het enigiemand met inligting gevra om kapt. Tyson Ndlovu by 071 481 2867 of die polisie se Stop Misdaadnommer by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.