Polisielede in sop oor beweerde dronkbestuur

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Scott Rodgerson/Unsplash)

Twee polisiebeamptes word nou deur dissiplinêre stappe in die gesig gestaar nadat hulle vroeër vandeesweek in hegtenis geneem is vir onder meer beweerde dronkbestuur.

Die twee beamptes is Donderdag op die R58 tussen Aliwal‑Noord en Lady Grey in die Oos-Kaap vasgetrek. Die beamptes werk by die Maletswai-polisiestasie.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê die beamptes het amper ʼn noodlottige ongeluk by ʼn stopstraat veroorsaak omdat hulle besope was.

“Daar word beweer dat die beamptes versuim het om by ʼn stopstraat te stop en gevolglik byna twee vrouepadwerkers omgery het,” sê hy.

Lede van die publiek het glo ander polisiebeamptes oor die voorval in kennis gestel.

“Ander beamptes is na die toneel ontbied en met hul aankoms is ʼn 31-jarige konstabel in hegtenis geneem vir roekelose en nalatige bestuur met ʼn staatsvoertuig.”

Die konstabel, saam met ʼn 56-jarige adjudant‑offisier wat ook in hegtenis geneem is, word ook ondersoek vir die feit dat hulle onder die invloed van drank was terwyl hulle aan diens was.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene, provinsiale polisiekommissaris, het die lede van die publiek wat die “moed gehad het om die onprofessionele optrede van die polisielede aan te meld”, geloof.

Buiten die strafregtelike aanklagte wat die beamptes in die gesig staar, sal dissiplinêre stappe ook teen hul gedoen word.

“Die gedrag van hierdie lede is in stryd met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se gedragskode en is boonop skadelik vir die beeld van die polisiediens,” sê Mene.

“Hierdie gedrag is onvergeeflik en die betrokke lede moet die gevolge van hul besluite dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johan ·

Bevorder hulle na Hoed se persoonlike sekuriteitswagte toe!!

Harley Davidson ·

” Dissiplinêre ” ondersoek maar as ‘n persoon in die publiek gevang word is dit ‘n kriminele ondersoek dit is lagwekkend hoe onoselheid die wanabee polisie altyd troef in wat hulle sê of doen.

Nie Verbaas ·

Is daar nog mense wat wil beweer dat alles reg is in die polisie? My hart gaan uit na die absolute minderheid wat nog probeer om wiele aan die rol te hou. Slaap maar voort o onbevoegde Cele.

Swerwer ·

En so is dit………………………..nou word daar konsuis opgetree oor die 2 vroue amper raakgery is, maar dat 1 van ons nou gaan kla dan verdwyn die klag of dit kom 6 jaar later voor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.