Polisielede, K9-hond sterf in KZN-oorstromings

Sers. Busisiswe Mjwara. (Foto: Verskaf)

ʼn Polisieduiker en haar hond is Sondag dood toe hulle probeer het om slagoffers van die oorstromings in die omgewing van die Msunduzi-rivier in KwaZulu-Natal op te spoor. Die 42-jarige Busisiswe Mjwara en haar hond, Leah, verbonde aan die K9-soek-en-reddingseenheid, was besig om te soek na drie mense wat vroeër die week verdrink het, toe hulle self in die moeilikheid beland en verdrink het.

In ʼn ander voorval is die 31-jarige konst. Thandazile Sithole dood toe haar huis op haar ingeval het.

Volgens genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, word 31 polisielede direk deur die vloede geraak – sommige het beserings opgedoen terwyl ander skade aan hul woonplekke gehad het.

“Die verlies van hierdie getroue lede is ʼn harde slag vir die polisie. Hulle het as helde gesterf en hul land eerste geplaas,” het Masemola gesê.

Die dodetal weens die verwoestende oorstromings in KwaZulu-Natal staan tans op 443, met 63 mense wat steeds vermis word. Duisende is boonop dakloos gelaat nadat hul huise weggespoel of inmekaar geval het.

Bykomende polisielede uit naburige provinsies is in KwaZulu-Natal ontplooi om te help met soek-en-reddingspogings. Die dienste van die polisie se lugvleuel, K9- en duikeenheid is deel van die regering se reaksieplan om hulp aan geraakte gebiede te verleen.

Gure weerstoestande het die soek-en-reddingsoperasies belemmer, maar nooddiensspanne kon weer hul werk Sondag hervat nadat die reën effens skietgegee het en verskeie paaie weer oopgestel is.

Masemola sê die polisie se bestuur sal bepaal hoe hy polisielede wat deur die oorstromings geraak word, kan bystaan. Hy het polisielede wat deel is van die reddingspan geloof en bedank vir hul werk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.