Polisielede moet ‘hulself beskerm’ – Cele

Polisielede op parade in die Oos-Kaap. Die minister het beamptes gevra om hulself hierdie feestyd te beskerm. (Foto: SA Polisie)

Sommige desperate misdadigers sal moontlik nie huiwer om ʼn polisiebeampte dood te maak om te kry wat hulle wil hê nie, sê die minister van polisie, terwyl hy terselfdertyd ʼn beroep op polisielede gedoen het om hulself te beskerm.

“Polisiebeamptes, julle is bates vir die land; julle is nuttig vir die land wanneer julle lewend en gesond is. Ek doen ʼn beroep op almal van julle om hierdie feestyd, terwyl julle die wet afdwing, julself binne die raamwerk van wetgewing te beskerm.

“Eenvoudig gestel, as jy te staan kom voor misdadigers wat vuurwapens rondswaai, moenie huiwer nie. Wanneer ʼn misdadiger sy vuurwapen op jou rig, is die enigste ding wat daarna gaan volg dat jy geskiet en moontlik vermoor gaan word,” het Bheki Cele aan polisiebeamptes in die Oos-Kaap gesê.

Die minister besoek tans elke provinsie om die verskillende gebiede se gereedheid vir die Kersvakansie te bepaal.

Volgens die polisie se statistieke is 80 polisiebeamptes verlede jaar aan en van diens af vermoor. Altesame 17 van hulle is in die Oos-Kaap doodgemaak, die hoogste getal naas KwaZulu-Natal waar 21 polisiebeamptes vermoor is.

Bheki Cele, minister van polisie, tydens sy besoek aan die Oos-Kaap. (Foto: SA Polisie)

Die Oos-Kaap maak gereed vir ʼn toename in besoekers in die aanloop tot Kersdag en die polisie het onderneem om op geweldsmisdaad, ook seksuele misdrywe, te konsentreer. Talle voorvalle van verkragting of seksuele aanranding vind veral tydens partytjies plaas.

Cele het ook sy kommer uitgespreek oor ʼn minderjarige seun wat in verband met ʼn reeks verkragtings in Mdantsane aangekeer is. Altesame sewe aanklagte van verkragting staar die 14-jarige seun in die gesig. Die eerste aanklag is in 2019 aanhangig gemaak toe die seun maar 12 jaar oud was.

Polisiebeamptes is dus opdrag gegee om geslagsgeweld as prioriteit te beskou en ʼn beter diens aan slagoffers van verkragting te lewer. Polisielede is ook gewaarsku om seker te maak polisiestasies is nie plekke waar slagoffers vir ʼn tweede keer geviktimiseer word nie.

Cele reis Woensdag na die Noord-Kaap en daarna na KwaZulu-Natal vir die res van sy veldtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.