Polisielede na Wits-kampus ontplooi

Die betogende Wits-studente. Foto: ANA

Die betogende Wits-studente. Foto: ANA

Polisiebeamptes is Dinsdag na die kampus van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) se mediese skool ontplooi nadat betogende studente die paaie afgesper en voertuie weggewys het.

ʼn Bus wat die kampus wou binnegaan, moes noodgedwonge omdraai toe studente Yorkweg gedurende die oggend beset het. Studente het in die middel van die pad gesit en geweier dat motoriste verbygaan.

Alle lesings vir die dag is weereens afgelas. Die betogende studente het die mediese skool geteiken, omdat hulle glo akademiese bedrywighede gaan steeds daar voort ten spyte van die betogings. Mcebo Dlamini, voormalige president van die studenteraad, het buite die kampus opgedaag en studente aangemoedig om voort te gaan met die betoging en “gedissiplineerd te bly”.

“Die eksamens was veronderstel om vandag te begin, maar weens die betoging sal dit nie gebeur nie. Ons sal gefokus bly totdat ons kry wat ons wil hê,” het hy gesê. Sy aankondiging dat die musikant Simphiwe Dana later Dinsdagaand vir die studente op die hoofkampus sal optree, is deur luide applous begroet. Volgens Dlamini is die konsert gereël aangesien “die revolusie traumaties [kan] wees”.

Die meeste van die studente het geweier om met joernaliste te praat en gesê beriggewing oor die betoging is onakkuraat. Volgens die studente word hulle verkeerdelik as gewelddadig uitgebeeld.

Die studente het vandeesweek hul betoging teen die voorgestelde 10.5% verhoging in studiefooie verskerp deur hul protesaksie na die strate van Braamfontein en ander kampusse uit te brei. Blade Mzimande, minister van hoër onderwys, sou Dinsdag ʼn dringende vergadering met universiteite se visekanseliers in Kaapstad hou oor die voorgestelde fooiverhogings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

Walglike optrede van mense wat die toekomstige professionele werkers/leiers van die land moet wees. Nee wat. Swak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.