Vier polisiebeamptes van die Wes-Rand is Donderdagoggend in hegtenis geneem nadat hulle glo vermeende koperkabeldiewe geskiet en daarna self die gesteelde koperkabels verkoop het.
Die skietery is nooit by die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) aangemeld nie.
Die polisiebeamptes, verbonde aan die polisiestasie in Carletonville, staan nou tereg op twee aanklagte van moord, dwarsboming van die gereg en koperkabeldiefstal.
Ndileka Cola, woordvoerder van Opod, sê die polisiebeamptes word daarvan beskuldig dat hulle op 11 Februarie twee mans doodgeskiet het nadat hulle die mans na bewering in besit van gesteelde koperkabels betrap het.
Daar word beweer dat die polisiebeamptes die verdagtes se liggame op die toneel agtergelaat en daarna na ’n skrootwerf gegaan het waar hulle die gesteelde koperkabels verkoop het.
Cola sê die skietvoorval is nooit by Opod aangemeld soos deur die wet vereis word nie.
Die polisiebeamptes sal na verwagting Vrydag in die Oberholzer-landdroshof verskyn.
Opod se ondersoek duur voort.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
22 Kommentare
Sjoe ek kry die handjievol goeie polisiemanne jammer wat saam met hierdie spul skarminkels moet werk.
‘n Mens het nie meer woorde nie . . .
Duidelik word daar ook nie meer gekyk hoeveel ammunisie word terug gebring teenoor die hoeveelheid wat uitgereik is toe die polisie kantoor verlaat is nie
Wat `n skande!!!!
Ek wonder wat statistiek sal oplewer as daar n peiling is oor hoeveel polisielede korrup is. Ek glo ons sal stom wees oor resultate. Dankie vir die lede wat nog eerlik is en hulle werk doen. Weereens n goeie aanduiding van ANC beleid se nagevolge.