Polisielede staan omtrent tou om optelbaba te vertroetel

Sers. Bilivana Hendrick Mbola en die baba wat polisielede by die Sinoville-polisiestasie Refentse gedoop het.

ʼn Baba van vermoedelik sowat twee uur oud wat Vrydagoggend vroeg in die noorde van Pretoria opgetel is, sterk goed aan by ʼn plek van veiligheid.

Die polisie het Vrydag omstreeks 05:00 ʼn oproep gekry dat die seuntjie, toegedraai in ʼn lap en in ʼn plastieksak, op die hoek van Dr. Swanepoel- en Sefako Makgatho-rylaan gevind is, het AO Johan van Dyk, woordvoerder van die Sinoville-polisiestasie, gesê. Die baba het geen klere aangehad nie.

Die polisie het paramedici inderhaas na die toneel ontbied waar seker gemaak is die kleintjie is ongedeerd. Hy is daarna na die polisiestasie geneem – waar ʼn heldeontvangs op hom gewag het.

Van Dyk sê die polisielede het bykans tou gestaan om die seuntjie te vertroetel. Terwyl die nodige dokumentasie afgehandel is om hom na ʼn plek van veiligheid te neem, was daar geen einde aan die polisielede se gewerskaf om te verseker die baba voel geliefd nie.

“Die ou seuntjie het almal se harte geroer, dit het almal by die polisiestasie gevang,” het Van Dyk gesê.

“Almal het ingespring en gehelp.”

Die pasgebore outjie het bly koud kry, tot een van die vrouebeamptes hom styf teen haar bors vasgedruk en hy eindelik warm geword het.

By die polisiestasie is die seuntjie intussen Refentse – wat beteken “ons het oorwin” – gedoop. Hy is daarna na ʼn huis van veiligheid geneem.

Die polisie het begin met ʼn ondersoek om sy ouers op te spoor.

Van Dyk het ʼn beroep op mense gedoen om in só ʼn geval eerder ʼn kind na ʼn plek van veiligheid, ʼn polisiestasie of maatskaplike werker te neem om te verseker die kind kry behoorlike versorging.

“Moet asseblief nie net ʼn kind aflaai nie. As jy voel jy kan nie na die kind omsien nie, nader iemand of ʼn plek wat jou kan help.”

In hierdie omgewing is instellings soos Rock of Hope, die Wonderboom-CMR of die Sinoville-krisissentrum gereed om in te gryp, het hy gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Tanniepetoors ·

Dankie Sinoville SAPD vir julle pragtige meelewendheid. Trots op julle.

Byekonfyt ·

Stem saam met jou Tanniepetoors. Hulle was op die regte tyd op die regte plek :)

ElizeK ·

Hoe dra jy n mensie vir 9 maande onder jou hart en tree dan soooo harteloos en onmenslik op. My hart is in n “vice grip” oor die wreedheid.

Landras ·

Maria – as daar net pienk klere en bersies is vir ‘n kaal babatjie wat opgetel word – dan moet seuntjies maar pienk aantrek . Dankie Sinoville Polisie en Medi-Edge paramediese dienste !

shari ·

Baie trots op ons SAP op die manier hoe hulle hiri situasie hanteer het.Mooi so manne in blou.Op die regte plek op die regte tyd

Anel ·

As jy nie ‘n kleintjie wil hê nie gebruik voorbehoeding. Dis gratis beskikbaar of moennie die voor die hand liggende ding doen nie.

capie ·

Baie bly die kindjie se lewe is gered. Vir die mense wat so vinnig oordeel, ‘n Vrou gaan party keer deur baie emosionele en sielkundige fases tydens, haar swangerskap en so ook met die geboorte. Dit is iets wat sy self nie kan verhelp nie en ons howe nie in ag neem nie. Môre, oormôre, sal sy die kind miskien met alle geweld weer wil terug hê.

Nella ·

En hier huil ek of dit my eie babatjie is wat ek verloor het.

Nie Verbaas ·

Dit wys jou die vlak van morele waardes as n ma dit doen.

twaalfboor ·

Waar is AL die galbrakers oor die polisie nou? Maar mens moet mos gereeld hoor hoe “useless” ALMAL van hulle is. Well done SAPS Sinoville….. Well done.

LiveAndLetLive ·

Ek sal nie eens n baba dierjie net so kan los in n straat nie – hoekom het jy hom nie net na n kerk of polisie stasie geneem nie Mamma?
Ons sal ook nou nie weet wat haar omstandighede is nie – hoop hulle spoor haar op om seker te maak sy is ok en baba kry n goeie huis, wat die ou dingetjie verdien.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.