Polisielede vas vir kaping van perlemoen-trok

Argieffoto ter illustrasie.

Twee polisiebeamptes wat verbind word met die kaping van ʼn vragmotor wat perlemoen vervoer het, sal na verwagting Maandag in die Somerset-Wes-landdroshof verskyn.

Die beamptes is Vrydag in hegtenis geneem, ʼn jaar en ʼn half na die kaping van die vragmotor in Augustus 2022.

Die vragmotor het perlemoen ter waarde van R500 000 na die Kaapstadse Internasionale Lughawe vervoer vir uitvoer, volgens kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder.

“Die vragmotor met twee bemanningslede het die Baden Powell-afrit op die N2 genader en die insittendes het twee gemerkte polisievoertuie met sirenes en flikkerende blou ligte agter hulle gewaar waarna die bestuurder stilgehou het.”

Die insittendes van die polisievoertuie, wat almal in polisie-uniform geklee was, het die bestuurder en bemanningslid van die vragmotor gekonfronteer en versoek om hul selfone te oorhandig.

“Twee vuurwapens is uit die besit van die een bemanningslid van die vragmotor geneem. Die bestuurder is agter in een van die polisievoertuie gesit terwyl sy passasiers agter in die ander polisievoertuig geplaas en daar met hulle van die toneel weggery is.”

Die insittendes van die vragmotor is later in ’n beboste gebied in Mitchells Plain afgelaai. Die leë vragmotor is verlate by die Wolfgat-natuurreservaat gevind.

Volgens Van Wyk is daar tydens die ondersoek vasgestel wie die bestuurders van die polisievoertuie was en hul selfoonrekords is verkry.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 33 en 27 jaar oud, is Vrydag in hegtenis geneem en sal van kaping en diefstal aangekla word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Di ·

Nog 2 skelms in die polisie soos hulle mafia baas Cele. Die MAFIA is in beheer van die Polisemag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.