Polisielede vas vir rooftog op plaas

(Foto: SA Police Service/Twitter)

Drie beamptes verbonde aan die polisiestasie in Ficksburg in die Vrystaat is Donderdag vir beweerde huisroof in hegtenis geneem.

Volgens kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, spruit die inhegtenisneming uit ʼn voorval op 13 Januarie.  Op dié dag was Motlobodi Macholo by sy huis op die Koeijenfontein-plaas in Rosendal naby Ficksburg toe iemand aan sy deur klop.  Die persone wat geklop het, het hulle as polisiebeamptes geïdentifiseer en drie mans in siviele klere het die huis binnegekom.

Die mans het aan Macholo gesê hulle volg inligting op oor dagga wat hy na bewering onwettig op die plaas verkoop en stoor. “Al drie die verdagtes het glo hul vuurwapens op hom gerig en hom beveel om die dagga uit te haal. Hulle het hom toe vasgebind en geneem na twee ander huise op die plaas, waar hulle twee ander slagoffers ondervra het,” sê Mbambo.

Die verdagtes het glo vir hom gesê dat nog polisiebeamptes met honde op pad was om die plek te deursoek en het die slagoffers net daar vasgebind gelos.

“Toe die slagoffers nie meer die verdagtes se stemme kon hoor nie, het hulle hulself losgemaak en gesien dat die deur van die stoorkamer wawyd oop is. Hulle het toe ontdek dat masjinerie soos ʼn kompressor, elektriese kabels en dierevoer vermis was.”

Die slagoffers het die voorval by die polisie aangemeld en ʼn saak van huisroof is aangemeld.
Die verdagtes verskyn Maandag 3 Februarie in die hof op Ficksburg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

DieKriek ·

Ek weet nie hoe mens deesdae kan onderskei tussen kamma-SAPS en kriminele-SAPS nie. Hier by ons in die Cullinan distrik is vanmiddag n trok afgetrek en beroof deur mense in polisie uniforms. As mens nie stop nie maar na n “veilige” plek ry, word jy in elk geval aangerand deur dienende SAPS lede. As jy stop, word jy dalk deur rowers oorval. Hoe nou gemaak?

Ronel ·

Hul leuse is nie meer “To protect and serve” nie. Eerder “rob, steal and lie”

JC ·

@Die Kriek…Dis nie meer kamma SAPS wat roof, moor en plunder nie, dis regte SAPS lede….die bietjie eerlikkes wat oor is, is maar din gesaai……ons is nie veilig met ons eie mag, wat veronderstel is om wet en orde te handhaaf nie. Ek vertrou geen SAPS lid in SA meer nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.