Polisielid berg op om hond te red

Lt.kol. Eric Brand dra die vreesbevange hond teen die Magaliesberg af. (Foto: Verskaf)

ʼn Dankbare hond is met haar eienaar herenig nadat ʼn bekommerde lid van die Hartbeespoort-polisie in Noordwes summier die Magaliesberg in is op soek na die dier.

Lt.kol. Eric Brand sê die polisiestasie het ʼn oproep ontvang dat ʼn hond reeds ʼn paar dae lank in die Magaliesberg agter die Hoërskool Hartbeespoort blaf en hy het besluit om te gaan ondersoek instel.

“Ek het ná werk besluit om op te stap en gedink miskien kry ek iets. Aanvanklik het ek gedink iemand het gaan stap met die hond en dat iets dalk met hulle gebeur het,” het Brand gesê.

Die draadstrik waarin die hond gevang is. (Foto: Verskaf)

Hy het sowat ʼn kilometer ver teen die berg opgestap toe hy danksy die dier se tjankblaf op die hond, ʼn Weimaraner-teef, afgekom het.

“Die hond was in ʼn draadstrik om haar nek vasgevang. Gelukkig het ek water by my gehad. Ek het dit in my hand gegooi en vir haar gegee. Sy het eers na my gehap, maar dit was glad nie aggressief nie.”

Die draadstrik was aan ʼn boom vasgemaak en Brand het aanvanklik gesukkel om dit los te kry. Die hond was teen daardie tyd vermoedelik minstens twee dae lank al vasgevang en waar sy op die grond gesit het, was dit al skoongekrap van haar gespartel.

“Sy was baie bang en ek moes haar noodgedwonge dra, maar na elke paar meter het sy begin spartel,” het Brand gesê.

Elke keer wat Brand aan die draad om haar nek geraak het, het die hond boonop gaan lê. “Haar nek was redelik seer en sy was vreesbevange.”

Lennox Williams, ‘n inwoner van die gebied, help dra. (Foto: Verskaf)

Nog ʼn inwoner van die gebied, Lennox Williams, het Brand halfpad teen die paadjie op ontmoet en die hond teen die berg af help dra.

Met die hulp van sosialemediagroepe is die hond se eienaar boonop opgespoor en sy is terugbesorg.

“Ons help waar ons kan,” het Brand, ʼn diereliefhebber met vier van sy eie honde, gesê.

Mense gaan stap of ry gereeld fiets op voetpaadjies in die gebied, maar boosdoeners stel steeds strikke. Van dié strikke is volgens Brand al vantevore verwyder.

Brand sê volgens die hond se eienaar was sy twee dae lank vermis. “Ek is net bly ons het haar betyds gekry,” het hy gesê.

Die hond drink gretig water nadat sy uit die strik bevry is. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie vir ‘n positiewe storie. Dankie vir die wat gehelp het

Fae Fubar ·

Dankie Eric vir die opspoor en Lennox dat jy gaan help dra het. Julle is ware helde.

4ntj13 ·

Ek dink Suid-Afrika kort ʼn toekenning wat ons vir al die diere se groot helde mee kan erkenning gee.

Pieter J ·

Ongelukkig word niks gedoen aan die wat die strikke stel nie. Dit is ook daardie tipe boewe wat mens aanval wat daar gaan stap.

Danie ·

Die eerste ding wat die hond benodig is ‘n nuwe beter eienaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.