Polisielid gedwing om vermoorde kollega se lyk te dra

(Argieffoto ter illustrasie: SA Polisie)

ʼn Polisielid wat by Koffiebaai in die Oos-Kaap doodgeskiet is, se kollega is gedwing om sy liggaam te dra waarna die twee saam agterin ʼn polisievoertuig toegesluit is voordat dit kort daarna in ʼn rooftog gebruik is.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê die twee konstabels het gister kort voor middernag gereageer op ʼn klagte in Zindidi, toe vier mans hulle genader het onder die voorwendsel dat hulle hulp benodig.

“Twee van die vier mans het die polisievoertuig aan die bestuurder se kant genader, terwyl die ander twee aan die passasierskant was.

“Sonder enige waarskuwing het een van die verdagtes ʼn skoot afgevuur en die bestuurder doodgeskiet. Die ander polisielid is gedwing om die liggaam van sy kollega te dra en hulle is saam agterin die polisiebakkie toegesluit,” het Naidoo gesê.

Een van die verdagtes het met die bakkie na ʼn nabygeleë winkel gery, waar die sekuriteitswag gedwing is om die hek te open. Hulle is in die winkelier se huis in en het hom van ʼn ongenoemde bedrag geld en alkohol beroof. Hulle het in die winkelier se Nissan Navara gevlug en die oorlewende polisielid in die bakkie gelaat.

“Die Navara is later verlate op die pad na Mqanduli gevind. Die verdagtes het ook ʼn 9 mm-pistool en verskeie koeëls by een van die polisiebeamptes geroof, asook ʼn koeëlvastebaadjie en albei konstabels se selfone,” het Naidoo gesê.

Die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, het die Oos-Kaapse polisiekommissaris beveel om die polisie se 72 uur-aktiveringsplan in werking te stel, wat beteken bykomende hulpbronne word beskikbaar gestel om alle leidrade so gou moontlik op te volg.

“Ons gaan nie rus voor die verdagtes nie gevind en aanspreeklik gehou word vir dié skokkende en wrede moord nie,” het Sitole gesê.

Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om enige inligting rakende die voorval by Stop Misdaad (08600 10111) of op die polisie se MySAPS-app aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Waarheid ·

n Aanval op die polisie is aanval op die staat, maar wat wie gee om? Polisielede is mos vervangbaar! Of so lyk dit as mens na die regering se slap houding teenoor misdaad kyk! Maar wie moet sorg vir ministers se veiligheid, seker nie die polisie nie?

Nichol ·

En so word die erns van misdaad in SA slegs erken en veroordeel wanneer ñ lid van die SAPD betrokke is. Dis onseker of misdaad óóit beheer sal kan word in SA (meer duidelik dat dit nóóit beheer sal kan word nie!) want wet en orde is lankal nie meer van belang nie!

pieter ·

My vraag lankal is waar kry die misdadigers die vuurwapens as n ou gevang word met vuurwapen sonder lisensie moet hy lewenslank tronk toe , lyk my da meer ongelisensieerde vuurwapens dan gelisensiheerde wapens in SA in omloop

Poppie ·

CR is te besig- hy skryf sy Xmas speech so moet hom nie pla nie

JR ·

En kyk hoe praat al die rusbank rambos oor swak polisie. Loop in hulle stewels vir n dag en Dan praat ons weer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.