Polisielid geskiet toe rowers op poskantoor toeslaan

(Argieffoto bloot ter illustrasie.)

ʼn Polisiebeampte is Woensdag in ʼn skietery gewond toe vier gewapende rowers op die poskantoor in Allanridge in die Vrystaat toegesak het.

Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug en word nou deur die polisie gesoek.

Volgens kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 09:30 plaasgevind terwyl menigte mense buite die poskantoor tougestaan het om hul Sassa-geld te ontvang.

“Vier verdagtes wat met pistole en ʼn outomatiese geweer gewapen was, het die poskantoor binnegegaan en ʼn onbekende bedrag kontant gesteel.

“ʼn Adjudantoffisier en ander lede het by die toneel opgedaag terwyl die gewapende rowers nog in die poskantoor was. Die rowers het skote op die polisievoertuie afgevuur waarna die polisie teruggeskiet het.”

Die beseerde polisieman is in die regterbeen geskiet en word tans in ʼn hospitaal behandel.

Volgens Thakeng is ʼn wit Audi-sedan met ʼn Gauteng-nommerplaat ook in die skietery getref. Die rowers het in dié einste motor gevlug wat later by ʼn huis in Nyakallong (ook in Allanridge) gevind is.

Die rowers het glo van daar af in ʼn wit Condor met ʼn Vrystaat-nommerplaat gevlug. Ook dié voertuig is later verlate in die middestad van Odendaalsrus gevind.

Dit is nie duidelik watter soort voertuig die rowers vir hul laaste vlugtog gebruik het nie.

“ʼn Soektog is van stapel gestuur om die gewapende rowers op te spoor.

“ʼn Saak van gewapende roof is aangemeld.”

Enigiemand met inligting kan die polisie se provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad by 083 316 2689 bel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Shakespeare ·

Ons land het ‘n Kriminele mekka geword vir misdadigers en moenie die SAP uitsluit nie. Kaders is oorvloedig in ons land.

Nouja ·

Shakespeare jy maak die stelling dat SAPS lede is betrokke by misdaad, as jy van SAPS lede weet wat betrokke is of was by misdaad besoek asb jou naaste SAPS kantoor le n verklaaring af. Die SAPS lede werk onder geweldige druk so Kom ons onder steun hulle liewer

Christine ·

Ja, en dan werk daar kriminele binne ook saam om inligting uit te gee vir die kriminele buite. As al die kriminele gevang word, gaan ons nie genoeg tronke hê nie. Ons pragtige land is in ‘n gemors.

Blomme ·

Mens kan nie anders as om so hartseer te word vir die verval van ons land nie.

Swerwer ·

Die Nasionale Sport van ons land teken nou een rekord na die ander aan, OORWINNING sal eersdaags gevier word vir hierdie Nasionale Sport soort as dit so voortgaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.