Polisielid sterf, 5 beseer op Pelgrimsrus

Pelgrimsrus (Foto: Wikipedia)

Twee polisiebeamptes en vier lede van die publiek is Sondagaand in ʼn kroeg op Pelgrimsrus geskiet.

Volgens die polisie het ʼn sersant en ʼn konstabel Sondagaand gereageer op ʼn klagte van roof by ʼn kroeg in dié toeristedorpie in Mpumalanga. “Toe die polisiebeamptes die kroeg binnestap het ʼn groep mans op hulle losgebrand. Albei polisiebeamptes en vier lede van die publiek het veelvoudige skietwonde opgedoen. Die konstabel het aan sy wonde beswyk en die sersant en lede van die publiek is kritiek beseer,” sê brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder.

Die verdagtes het op die vlug geslaan en is vort met albei polisielede se dienspistole.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiekommissaris, het die voorval ten sterkste veroordeel. “Hierdie deurlopende en gewetenlose aanvalle op ons polisielede moet end kry. Ons kan slegs optimale resultate in dié verband kry indien lede van die publiek die polisie toegewyd ondersteun.”

Naidoo sê lede van die Valke en misdaadintelligensie-eenheid, sowel as ʼn span speurders is ontplooi om die verdagtes op te spoor en in hegtenis te neem.

“Ons vra enigiemand met inligting oor die voorval of waar die verdagtes hul bevind om die polisie te kontak by 086 00 10111. Lede van die publiek kan ook inligting anoniem verskaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Renè ·

Jammer Sithole, ons kan net samewerking gee as ons dit ook kry. Ons duld lankal nie meer die aanvalle op onskuldige mense en die polisie skitter meestal in hulle afwesigheid of onbevoegdheid.

Pieter J ·

Dit is duidelik dat die polisie nie voldoende opgelei is om die huidige misdadigheid te hanteer nie. Hulle moes mos geweet het as daar ń rooftog aan die gang is gaan daar gewapendes wees.

Frans ·

Vat die Polisie se wapens weg dan sal hulle dalk veiliger wees!

henndrik ·

Dit is omdat daar geen gevolge is vir die oortreders nie, daar is niks wat hulle twee keer laat dink nie

quartus ·

Ek onthou…in n land..lank lank lank gelede,,was dit die grootste pret om altyd by pelgrimsrus te kon stop en terug te gaan in tyd…maar dit was lank lank gelede…sien my die afgelope paar jaar al glad nie..sal ook nie weer nie

Magda ·

Sluit al die onwettige Bar en kroeë, en hou ordentlike rekors van al die wat wettig daar is, want op elke hoek en draai is daar n kroeg / bar en 60% is onwettig en verkoop aan minderjarige mense ook drank. Begin daar SAPD dit sal al klaar n groot misdaad probleem oplos.

Niné ·

Ek wens die generaal wil ook se “hierdie deurlopende en gewetenlose aanvalle op ons plaasgemeenskap moet end kry”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.