Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het sy magte verskerp ter voorbereiding vir die 20 000 mense wat Saterdag in Ulundi, KwaZulu-Natal, byeenkom vir wyle prins Mangosuthu Buthelezi se begrafnis.
Onder leiding van die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (NatJoints) gaan die SAPD al sy hulpbronne inspan om die veiligheid van al die roubeklaers te verseker.
“NatJoints, die Provinsiale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur (ProvJoints), alle wetstoepassingsowerhede en verskeie regeringsdepartemente werk saam om te verseker dat die begrafnis beveilig word,” sê brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder.
ʼn Groep mense het reeds vroeër vandag by die Voortrekkermonument bymekaargekom in teenstand teen ʼn gedenkdiens wat by die monument vir Buthelezi gehou is.
NatJoints het die stand van gereedheid en die paraatheid van al die wetstoepassingsagentskappe beoordeel en volgens Mathe is NatJoints tevrede met die veiligheidsplan wat opgestel is.
“Roubeklaers wat die begrafnisdiens bywoon, word versoek om hulle ordelik en verantwoordelik te gedra,” sê Mathe.
“Hulle word ook aangemoedig om met wetstoepassers saam te werk en geduld aan die dag te lê.”
In ooreenstemming met die Zoeloe-tradisie en -kultuur het NatJoints besluit dat diegene in tradisionele drag wel hul spiese en skilde by die begrafnis mag inneem.
“Lede van die publiek word egter gemaan dat geen vuurwapens toegelaat word nie. Wetstoepassingsowerhede sal nie huiwer om op te tree teen enigiemand wat hulself aan die verkeerde kant van die wet bevind nie,” sê sy.
ʼn 21-geweersaluut sal by Buthelezi se begrafnis gehou word, en Mathe maan dat die skote dalk die omgewing en sy mense kan versteur.
“Spesiale sorg moet hiertydens aan mense met swak gesondheid, bejaardes en kinders gegee word,” sê sy.
“Eienaars van troeteldiere en vee moet ook voorsiening maak vir die diere vir die duur van die begrafnisseremonie.”
Pres. Cyril Ramaphosa het Dinsdag aangekondig Buthelezi sal vereer word met die hoogste kategorie van staatsbegrafnis.
Die president kan ʼn staatsbegrafnis aankondig vir mense aan wie die land die hoogste eer wil betoon. ʼn Spesiale kategorie 1-staatsbegrafnis is byvoorbeeld in 2021 ook vir emeritus aartsbiskop Desmond Tutu gehou.
Buthelezi is verlede week in die ouderdom van 95 jaar oorlede.
“NatJoints is vol vertroue dat alle roubeklaers, ongeag ras, velkleur, geloof of politieke verbintenis, harmonieus sal saamkom om die wyle prins te vereer,” sê Mathe.
Ok. So al wat kan word losgelaat om die “prins” veilig in die grond te kry, maar as daar in die gewelds hool gevra word waar is die wat veronderstel is om ons te beskerm en te beveilig….’n dawerende stilte! Hoop die “prins” se familie betaal vir die klug.