Polisieman beroof wyl hy in wrak vasgekeer lê

Kapt. Deon Gerber in die hospitaal. Foto: Verskaf

ʼn Polisiebeampte van Port Elizabeth is Maandagoggend beroof terwyl hy in ʼn ernstige toestand steeds in die wrak van sy voertuig vasgekeer was nadat hy in ʼn trompop botsing teen ʼn ander voertuig betrokke was.

Kapt. Deon Gerber, verbonde aan die Motherwell-polisiestasie, was omstreeks 05:45 op pad na die polisiestasie toe die ongeluk op die R335 naby die Motherwell-begraafplaas plaasgevind het. Volgens ʼn polisieverklaring het ʼn aankomende VW Amarok-voertuig ʼn VW Golf verbygesteek en reg van voor teen Gerber se Ford Ranger-bakkie gebots.

Die 49-jarige bestuurder van die Amarok het ook teen die VW Golf gebots.

“Toe polisiebeamptes op die toneel opdaag, het hulle ʼn asemtoets gedoen en gevind dat die bestuurder van die Amarok byna drie keer oor die wettige bloedalkoholperk was. Die bestuurder is nie in die botsing beseer nie, maar wel op die toneel vir dronk-, roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem. Formele bloedtoetse is ook gedoen.”

Luidens die verklaring het vier insittendes in die Golf geringe beserings opgedoen. Hulle is na die Motherwell-kliniek geneem.

Voordat polisiebeamptes egter by die toneel aangekom het, was ʼn ernstig beseerde Gerber hulpeloos in die wrak van sy bakkie vasgekeer. In hierdie tyd is Gerber se skootrekenaar uit die voertuig gesteel.

Met nooddienste se aankoms op die toneel is meganiese toerusting gebruik om Gerber uit die wrak te sny en hy is na die Greenacres-hospitaal gehaas. Hy is later na die Life Mercantile-hospitaal oorgeplaas met vermoedelik inwendige beserings.

Intussen was lede van die blitspatrollie op die spoor van die mense wat die skootrekenaar uit die bakkie gesteel het. Teen 11:00 Maandag is twee verdagtes, onderskeidelik 31 en 37 jaar oud, in hegtenis geneem nadat hulle die skootrekenaar by ʼn tweedehandse winkel in Sidwell probeer verkoop het.

Volgens die polisie is ʼn gesteelde Toyota Conquest-voertuig ook in hul besit gevind. Die verdagtes sal binnekort in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklagte van voertuigdiefstal en besit van gesteelde goedere.

Gerber is intussen in ʼn stabiele toestand en sou ná sy oorplasing na die Life Mercantile-hospitaal ʼn operasie ondergaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

ontevrede leser ·

gerber en golf insittendes, sterkte met herstel, “amarok” 05:45, 3x keer oor die bloedalkoholperk, jy verdien geen simpatie nie, jammer die aarto puntestelsel is nog in werking nie, jou bestuurs lisensie moet permanent weggeneem word, jy is ‘n gevaar vir jouself en almal om jou. die polisie verdien ‘n “GOOD SHOW” vir die terugvinding van gerber se skootrekenaar

Coen ·

Wys jou net hoe arrogant word die skelms vandat die sogenaamde polisie nie meer hulle werk doen nie

Chrisjan ·

Sterkte aan al die beseerdes.Mag jul gou en volkome herstel.
Die Amarok bestuurder se bestuurs lisensie moet permanent ingetrek word want hy is ‘n potensiele moordenaar met sy voertuig.Ek hoop die Amarok is afgeskryf en sy versekering betaal nie uit nie.Sulke mense hoord nie op ons wetsgehoorsame bestuurders se paaie toegelaat word nie.Hy moet bus ry of ‘n taxi gebruik vir die res van sy lewe.

OumaLien ·

Welgedaan aan die beamptes wat sommer nog skurke inhegtenis geneem het en ook die skootrekenaar teruggevind het. Kapt. Gerber, ek hoop jy sterk gou en volkome aan, jy het onskuldig in ‘n dronkbestuurder se pad beland. Ek hoop hulle sluit die dronkbestuurder vir lank toe.

Maggie ·

Ek moet ook se wel gedaan SAP!!Jul kan dit doen as julle wil.Kapt Gerber ek hoop jy sterk vinnig aan asook di persone in di Golf.Di dronk bestuurder moet baie swaar gestraf word want genugtig om daai tyd van di oggend so ver oor di limiet te wees is iets erg en baie onaanvaarbaar.Kyk nou wat ht sy beskonke toestand veroorsaak!Sies man jy behoort jou te skaam?

Duitser ·

Dit is die probleem as hulle wil maar hulle wil nie meer nie en dit is hoekom hierdie land in anargie verval

Samantha ·

Sterkte aan die polisie man hy sal volle herstel want ons Jesus hou hom in sy hand

Tiger ·

Sterkte aan Kaptein Gerber.Mag u gou en volkome herstel.Aan die Amarok bestuurder – hoop hulle vat jou bestuurs lisensie weg.Jy’t jou voorreg om ‘n motor voertuig te kan bestuur gruwelik misbruik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.