Polisieman buite kerk geskiet

(Argieffoto: pixabay)

’n Polisiebeampte is vroeër die naweek buite ’n kerk in KwaZulu-Natal geskiet. Die polisiebeampte was nie aan diens nie en het ’n kerkdiens bygewoon toe die skietery buite die kerk plaasgevind het.

Verskeie gemeentelede se voertuie is tydens die voorval beskadig.

Lt.kol. Nqobile Gwala, polisiewoordvoerder, sê die polisieman het Vrydag omstreeks 19:30 ’n diens by ’n kerk in Umlazi bygewoon. Hy en ’n vrou was in ’n stadium buite op hul selfone doenig toe hulle deur drie mans oorval en van hul selfone beroof is.

Een van die mans het probeer om die polisieman se vuurwapen by hom te gryp en ’n skietery het uitgebreek. Die polisiebeampte is tydens die skietery in die been geskiet.

Minstens twee van die verdagtes het ook skietwonde opgedoen en te voet op die vlug geslaan. Die polisie is na die kerk ontbied en die twee gewonde verdagtes is kort daarna naby die kerk aangekeer.

“Een van die verdagtes was steeds in besit van ’n vuurwapen wat gebruik is om die polisiebeampte te skiet,” sê Gwala.

Die polisie het verdere inligting opgevolg en nog twee verdagtes is in verband met die skietery by die kerk in hegtenis geneem. Daar is ook beslag gelê op ’n voertuig wat tydens die misdaad gebruik is.

Die twee gewonde verdagtes is tans onder polisiebewaking in die hospitaal terwyl die ander twee verdagtes in polisie-aanhouding is.

Die verdagtes, almal tussen die ouderdomme van 23 en 36, sal na verwagting volgende week in die landdroshof in Umlazi verskyn op aanklagte van poging tot moord, roof, opsetlike saakbeskadiging en die onwettige besit van ’n vuurwapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Christine ·

Daar was die naweek twee ander gevalle ook in KZN wat misdadigers kerke binnegestorm het en mense beroof het. Mens is nou nêrens veilig, nie eens om jou godsdiens te beoefen nie. Ons land het verval tot ‘n gangsters paradise, soos Suid-Amerika., en dit word by die dag erger.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.