Polisieman deur taxi raakgery, vang steeds verdagte

Argieffoto

ʼn Oos-Kaapse polisiebeampte is geloof vir sy deursettingsvermoë nadat hy Saterdag ʼn vermeende oortreder agternagesit en gevang het ten spyte daarvan dat die polisiebeampte oomblikke vantevore deur ʼn taxi raakgery is.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 16:10 in Gelvandale gebeur.

Volgens Naidu was polisiebeamptes besig met ʼn soek-operasie in Louwstraat en het beamptes ʼn persoon deursoek wat hulle vermoed het moontlik dwelms in sy besit gehad het. Volgens Naidu het ʼn tweede groep polisiebeamptes in hierdie stadium opgemerk hoe ʼn man met ʼn vuurwapen in sy hand weghardloop.

“Beamptes het die verdagte te voet en in ʼn polisievoertuig agternagesit. Daar is gesien hoe die verdagte ʼn vuurwapen oor ʼn heining gooi,” het Naidu gesê.

Volgens Naidu is ʼn adjudant-offisier, wat agter die verdagte aangehardloop het, deur ʼn taxi raakgery. “Hy het egter opgestaan en net aangehou om die verdagte te jaag.” Die verdagte het omgedraai en met ʼn tweede vuurwapen skote op die polisiebeamptes afgevuur.

“Die beamptes het gesien hoe die verdagte daarna die vuurwapen aan twee ander mans oorhandig wat nadergehardloop het. Die beamptes kon daarin slaag om die 18-jarige verdagte vas te trek, terwyl ander beamptes die ander twee mans agternagesit het.”

Een van dié mans is by ʼn huis in Nyalastraat opgespoor, maar daar was geen vuurwapen in sy besit nie. ʼn Pistool is later in ʼn erf in Louwstraat gevind.

“Die bestuurder van die taxi is ook in hegtenis geneem op aanklag van roekelose en nalatige bestuur,” het Naidu gesê. Die 18-jarige verdagte is aangekla van die onwettige besit van ʼn vuurwapen en poging tot moord.

“Die beseerde adjudant-offisier het beserings aan sy gesig, vingers en voet opgedoen. Nadat hy die 18-jarige verdagte in hegtenis geneem het, is hy na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.”

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris in die Oos-Kaap, het die adjudant-offisier geloof vir sy dapperheid en toewyding om ten spyte van sy beserings sy pligte uit te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Manie Strydom ·

Hierdie klink vir my n n nollie storie ,veral die gedeelte van die taxi bestuurder wat die polisie man gestamp het en die oor en weer gee van vuurwapens wat nie oor heinings gegooi is nie .

Coen ·

Dit maak ook vir my nie sin is die polisie man per ongeluk raakgery hoekom was hy so vasberade om die ou te vang skuld die ou hom omkoop geld want gewoonlik doen hulle nie meer moeite om iemand te jaag nie tensy hulle hom wou roof of hy hulle geld skuld.

Susan ·

Onder normale omstandighede sou ek gesê het die kommentaar pas nie by die insident nie , maar die polisie het so n vrot reputasie ek gaan niks sê

Jannie ·

Dankie Susan ek stem saam met jou as ń mens niks goeds te sê het nie bly liewer stil.
Koen en Manie is duidelik verveeld, as ń mens fout soek en ń stok om iemand mee by te kom sal jy dit kry.
Dink aan julle glo julle sal genees.

Johnny ·

Hou Jul kommentaar vir julself maroela probeer nuus gratis vir u gee u sit op die stoep. Lees gewoonlik nie kommentaar agv kinderagte kommentaar

Leahim ·

Johnny en Jannie.Elke persoon het die reg om sy opinie te lug sonder om beledig of verkleineer te word dit is n algemene reel deur mense met n ik van 125 +, besluit maar self of julle voldoen of nie.

Pop ·

Julle wat so kritiseer: nie alle Polisie en Metro Polisie lede is korup nie.
Ek salueer daardie SAPS lid. Dankie dat jý n verskil probeer maak. Mag jy geseën word in jou werk en lewe.

Freek ·

@pop , ek stem maar ongelukkig is die oorgrote meerderheid , en die bewys daarvan is die wetteloosheid en totale anargie wat tans in suid afrika heers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.