Polisieman dood, nog een gewond toe verdagtes losbrand

Argieffoto

ʼn Polisiekonstabel is doodgeskiet en ʼn sersant gewond toe hulle Donderdagaand na die toneel van ʼn gewapende rooftog in Port Elizabeth uitgeroep is.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê die twee beamptes is omstreeks 23:00 na PE Ice Cream in Patersonweg in Noordeinde. Volgens haar is die beamptes deur die opsigter by die hek ontmoet.

“Voordat hulle daar aangekom het, is die veiligheidswag deur twee mans wat die perseel binnegekom het met ʼn vuurwapen aangehou. Hy is na ʼn waghuisie geneem en daar vasgebind. Een van die verdagtes het per ongeluk die alarm geaktiveer en dit het die opsigter na die perseel ontbied,” het Janse Van Rensburg gesê.

Volgens haar is die opsigter ook met ʼn vuurwapen aangehou en na die waghuisie geneem.

Die polisie het ʼn paar minute ná die opsigter by die toneel opgedaag.

“Die verdagtes het die opsigter gedreig en hom opdrag gegee om die polisie weg te stuur. Terwyl hy besig was om met die polisiebeamptes te praat het een van die gewapende mans uitgekom en op die polisie losgebrand,” het Janse Van Rensburg gesê.

Volgens haar is konst. Caroline Mjandana (38) noodlottig in haar nek gewond en die bestuurder van die voertuig, sers. Anele France (43), in die regteroor geskiet. France is tans in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

Albei polisiebeamptes se vuurwapens is gesteel.

Die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, het sy medelye met Mjandana se naasbestaandes betuig en haar gewonde kollega ʼn spoedige beterskap toegewens.

“Ons kan julle verseker die polisie sal nie rus totdat die oortreders aan die pen ry nie. Ons kan nie stilbly as dié wat hul lewens waag om ons te beskerm vermoor word nie,” het Ntshinga gesê.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan lt.kol Mayi by 082 697 5914 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JPV ·

Wil voorkom asof polisie nie opgewasse en / of bekwaam genoeg is om misdaad te bekamp. Ek sê dit op grond van die feit dat al hoe meer misdadigers vreesloos teenoor polisie is. Nie noodwendig polisielede se skuld……..

Nossob ·

Hoe stuur mens 2 dames daai tyd van die aan uit op so iets?

Die Skim ·

Dis maar soos dit is…. Die job het nie meer geslag nie

Speedguard ·

Nossob…… pas op vir feminisme. Die dames van vandag doen nou alles !Netnou piets hulle jou!

Nettie ·

@Speedguard – ek is ‘n vrou en ek het presies dieselfde as Nossob gedink – watwo twee vroue uitstuur na ‘n gewapende rooftog-toneel stuur? Nie dat vroue onbeholpe is of so iets nie, maar ‘n man by hulle kon dalk tog die uitkoms van die saak verander het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.