Polisieman doodgeskiet, nog 4 gewond

Argieffoto: SAPD

In ʼn kwessie van ʼn paar uur is ʼn polisiebeampte Maandagoggend doodgeskiet en vier ander gewond in twee aparte voorvalle in Gauteng en die Wes-Kaap.

Brig. Vishnu Naidoo, woordvoerder van die polisie, het na aanleiding hiervan gesê die aanvalle op polisiebeamptes bly steeds ʼn groot bron van kommer vir die polisiebestuur.

In een van die voorvalle was twee polisiekonstabels van Dobsonville in die vroeë oggendure besig met patrolliewerk in Braamfischerville in Gauteng toe ʼn groep verdagtes skielik op hulle losgebrand het. Die konstabels het versterking ontbied en die polisie se K9-eenheid het reageer. Met hul aankoms op die toneel het die verdagtes ook op hulle losgebrand en ʼn skietgeveg het ontstaan.

“Die verdagtes het probeer om in twee voertuie te ontsnap en een van die voertuie het teen ʼn huis gebots. Die verdagtes het uit die motor gespring en te voet gevlug,” het Naidoo gesê. “Een van die verdagtes is tydens die skietgeveg doodgeskiet, maar die ander kon daarin slaag om te ontsnap.”

Naidoo het gesê albei polisiekonstabels is met skietwonde na ʼn hospitaal gehaas waar een van die beamptes later aan sy wonde beswyk het. “Dit het later aan die lig gekom dat die verdagtes ʼn kitsbank by ʼn vulstasie in Braamfischerville opgeblaas het,” het hy gesê.

Omstreeks dieselfde tyd, is drie polisiekonstabels verbonde aan die Nyanga-polisiestasie in die Wes-Kaap en ʼn veiligheidswag gewond tydens ʼn rooftog by ʼn taverne in Browns Farm. Naidoo het gesê polisiebeamptes het op die rooftog gereageer toe daar op hulle losgebrand is.

“Lede van die spesiale taakmag is ontplooi om gewapende verdagtes wat in die taverne weggekruip het uit te bring. Tydens hierdie ingryping is vier verdagtes tussen die ouderdomme van 33 en 35 jaar oud in hegtenis geneem en is daar op een vuurwapen beslag gelê,” het Naidoo gesê.

Die drie polisiebeamptes, onderskeidelik 26, 32 en 44 jaar oud, en die veiligheidswag wat tydens die skietery gewond is, is na ʼn hospitaal geneem waar hulle tans in ʼn stabiele toestand is.

“Die aanvalle op polisiebeamptes wat hul gemeenskappe dien en beskerm, blyk onverpoos voort te gaan. Dit behoort deur alle sektore van die samelewing veroordeel te word,” het Naidoo gesê. “Ons medelye gaan uit aan die familie en kollegas van die polisielid wat in die uitvoering van sy pligte gesterf het en ons wens die gewonde beamptes ʼn spoedige herstel toe.

“ʼn Aanval op ʼn polisiebeampte is ʼn aanval op die nasie. Ons kan nie stilbly terwyl diegene wat hul lewens op die spel plaas om ons te beskerm, doodgemaak word nie. Laat ons ons uitspreek oor hierdie gruwelike misdade en laat ons dit doen ter nagedagtenis aan die lede wat reeds vir ons veiligheid gesterf het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Sw ·

Soos ñ moord op ñ polisieman ñ aanval is op ñ nasie, so is die moord op ñ boer ook ñ aanval op die nasie.
Die misdadigers het hul vrees verloor vir gesagsposisies. Spreek die probleem aan dat wetteloosheid van die hoogste gesag tot op grondvlak aangespreek word.
Sterkte aan die oorledene se familie.

Paul ·

Bring ou art 49 van die Strafproseswet terug en dit sal baie beter gaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.